Hoekom hoor ons so min van die Bybel in ons kerke?

If you want to know what people mean by what they say, watch what they do – Andy Stanley

Hoekom hoor ons so min van die Bybel in ons kerke?

It is well and good for the preacher to base his sermon on the Bible, but he better get to something relevant pretty quickly, or we start mentally to check out.”  Mark Galli het hierdie opmerking gehoor. Dit is ‘n verbasende en tragiese verwysing na moderne kerkwees – ongeduld met die woord van God. Die kerk word toenemend ongeduldig met en weerstandig teen die lees en prediking van die Bybel. Ongelukkig is daar ‘n mate van waarheid in die opmerking.

 

 Leraars is bang dat te veel verwysing na die Bybel sal veroorsaak dat mense nie langer sal luister nie. In baie gemeentes word die Bybel skaars tydens eredienste gelees. Preke fokus op die lidmate se bekommernisse. Die uitleg van die Bybel het plek gemaak vir mense se bekommernisse. Die gesag van die Bybel word ingesluk deur die gesag van die gemeente se bekommernisse.

 Ons leef in ‘n tyd waar mense fokus op hulle behoeftes, wense en hoop – tot nadeel van ander en beslis tot nadeel van God. Ons hou nie daarvan as die prediker die hele tyd sy materiaal aanbied nie … al kom dit uit die Bybel. Ons wil vrae vra oor dit wat ons bekommer, anders voel ons die preek het niks vir ons gesê nie.

 Galli sê dat die prediker by die Bybel kan begin, maar hy moet vinnig beweeg na die dinge waarin hulle belangstel … soos onsself. ‘n Goeie voorbeeld van Bybelse prediking kry ons in Nehemia 8:1 – 8. Die hele volk kom bymekaar en Esra lees vir hulle uit die wetboek van Moses – die aandag van die hele gemeente was by die wetboek. Die Leviete het die wet aan die gemeente verduidelik terwyl die volk daar staan. Esra en sy mense staan op ‘n houtverhoog voor die mense. Hulle lees die boek en daarna verduidelik hulle dit vir die mense. Die gemeente ontvang die woord in nederigheid. Die patroon is duidelik: die Bybel is gelees, verduidelik en ontvang. Die doel van die byeenkoms was duidelik: om die voorlesing uit die Bybel te verduidelik.

 In baie gemeentes word die Bybel feitlik nie meer gelees nie. Die lidmate – oud en jonk – moet die voorlesing hoor. Daarna moet dit uitgelê en toegepas word. Dit is nie genoeg om ‘n versie as afspringplek vir die preek te gebruik nie. Ongeduld met die woord van God kan verduidelik word as ongeduld met God self.