Hoekom is mense nie by die gemeente betrokke nie?

 

Many young believers are living out their Christian faith with enormous moral laxity,” – David Kinnemann

Hoekom is mense nie by die gemeente betrokke nie?

Nie almal is vir dieselfde rede onbetrokke nie. Maar elke gemeente sit met die probleem van lidmate wat nie betrokke is nie – die toeskouers in die gemeente. Baie van hulle woon die eredienste gereeld by, maar daar hou dit op. Hoekom? Lidmate weet tog dat hulle moet dien, maar dit lyk asof hulle geen begeerte het om dit te doen nie.

Ed Stetzer glo dat daar veral drie redes is waarom mense nie by die gemeente betrokke is nie. As ons weet hoekom hulle onbetrokke is, kan ons hulle dalk help om betrokke te raak.

 

  • Party mense voel dat hulle nie ‘n bydrae het om te lewer nie.

Hulle voel dat hulle niks het om aan te bied nie. Hulle mag dink dat hulle persoonlik nie ‘n bydrae kan lewer nie of hulle mag voel dat net kerkleiers in God se werk betrokke kan wees. Hulle weet nie dat God hulle geroep en aan hulle spesiale gawes gegee het om te dien nie. Hulle moet leer wat Petrus in sy eerste brief geskryf het: As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy ‘n genadegawe ontvang het, die ander dien (4:10). Let wel: elkeen moet dien; nie net die leraar, ouderlinge en diakens nie. Daar is nie mense in die gemeente wat geroep is en ander wat nie geroep is om te dien nie. Diegene wat voel dat hulle nie ‘n bydrae het om te lewer nie, moet geduldig geleer word dat God ‘n gawe aan hulle gegee het om ander te dien.

  • Sommige mense het seer

In elke gemeente is daar mense wat seer het. Soms is dit die kerk wat hulle seergemaak het. Weens hulle verlede is hulle huiwerig om weer betrokke te raak. Ons moet hierdie mense bystaan om weer te genees. Ons moet hulle liefhê en help. Hulle tyd om te dien sal kom, maar nou moet die gemeente hulle eers dien. Daar is min mense wat aktief betrokke in bediening is wat nie op een of ander stadium seergekry het nie. Hulle het motivering nodig.

  • Sommige mense is net lui

Sekere mense wil nie betrokke raak en dien nie. Hulle wil hê dat ander die werk moet. Al wat hulle doen, is om die voordele van ander se werk te geniet – ‘n ek-kom-eerste gesindheid. Dit is deel van die menslike natuur –ons is eerder verbruikers as medewerkers. Hierdie mense moet uitgedaag word Die probleem is dat luiheid aansteeklik is. Om te dien is moeilik – niemand wil werk terwyl tientalle mense net op die pawiljoen sit nie.

Al God se mense word opgeroep om te dien. Die enigste vrae is: Waar? Onder wie? Daar is altyd diegene wat nie betrokke is nie. Die eerste stap is om uit te vind waarom hulle nie betrokke is nie. Die gemeente is opgeroep om dissipels vir Jesus Christus te maak. Die enigste manier om hierdie taak buite die mure van die kerkgebou te verrig, is deur aktiewe en betrokke dissipels in die gemeente te hê.