Hoekom is Kersfees spesiaal?

 

As we face the cross, we can say to ourselves both ‘I did it, my sins sent him there’ and ‘he did it, his love took him there.’” –John Stott

 

Hoekom is Kersfees spesiaal?

Toe Neil Armstrong op die maan geland het, was dit groot nuus – almal het gekyk. En sy woorde: “One small step for man, ons giant leap for mankind.” Dit is niks in vergelyking met die nuus dat Jesus Christus op die aarde geland het nie.

 

Die belang van Kersfees: God kom na die aarde

Hy wat in die gestalte van God was … (Filippense 2:6). Jesus was God en Hy het onder ons kom woon (Johannes 1). Dit is die belang van Kersfees. Jesus het nie in die krip begin nie – Hy was hier selfs voor die skepping. Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie. Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping. God het deur Hom alles geskep, wat in die hemel en op die aarde is (Kolossense 1:15 – 16). Jesus is nie ‘n vae wese in die lug nie, maar Hy is God as mens. Jesus is God wat na die aarde gekom het – die belangrikste gebeurtenis in die geskiedenis.

 

Die werklikheid van Kersfees: God word mens

Jesus was volledig mens – vleis en bloed. Hy was nie ‘n mite nie. Maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word (Filippense 2:7). Hoekom sou Jesus nou ‘n mens geword het? Hy wou met ons mense kommunikeer. Maar hoe is Jesus soos ons?

  • Hy is soos ons gebore. Hy het alles opgegee en na die wêreld as ‘n gewone baba gekom. Hy kom in die nag in ‘n stal – gebore soos ons.
  • Hy groei soos ons. En Jesus het verstandelik en liggaamlik gegroei (Lukas 2:52). Hy lyk soos ‘n Jood in Palestina. Hy was ‘n man wat as timmerman gewerk het.
  • Hy is net soos ons versoek. Hy is versoek, maar Hy was sonder sonde (Hebreërs 4:14 – 16). Hy het dieselfde druk as ons ondervind – dieselfde versoekings, maar Hy het nooit toegegee nie. Daarom weet Jesus wat dit beteken as ons voor versoekings te staan kom.
  • Hy het net soos ons gely. Hy het pyn en teleurstelling gevoel; Hy het moeg geword; Hy het soms eensaam gevoel. Jesus word wat ons is, sodat ons kan word wat Hy is.

 

Die rede vir Kersfees: Jesus kom om te sterf

Jesus gaan vrywillig na die kruis en lê daar sy lewe vir ons af. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis (Filippense 2:8). Hoekom het Hy dit gedoen?

  • Om God se liefde vir ons te wys. Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was (Romeine 5:8). Sy motivering was liefde. Hy gee sy lewe vir ons toe ons Hom verwerp het – voor ons nog gebore was.
  • Om vir ons sondes te betaal. As jy ‘n wet verbreek, moet jy betaal. Die betaling vir sonde is die dood. Hy het ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees (1 Petrus 2:24). Ons is volkome vergewe vir alles wat ons verkeerd gedoen het.

 

As ons nie ‘n Verlosser nodig gehad het nie, sou God nie al die moeite gedoen het om een te stuur nie. Die feit dat Jesus Christus wel mens geword het, is ‘n bewys dat ons wel ‘n Verlosser nodig het. Nou is ons vry van skuldgevoelens, vrees, bekommernisse en ‘n doellose lewe. Ons weet dat God aan ons die ewige lewe gegee het. Die kruis is nie die einde van Jesus Christus nie. Hy het opgestaan en sit aan die regterhand van God. Hy wil ons huis toe bring – na sy Vader toe.

 

Die gevolg van Kersfees: Jesus is die Here

Ons lees in Filippense 2:9 – 11: Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom ‘n Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader. Wat beteken dit as ek sê dat ek gelowige is, dat ek verlos is? Dit beteken ek sê: “Jesus in my Here.”

  • Ek erken dat Hy God is. Hy is meer as ‘n mens of ‘n profeet – Hy is die Here van my lewe. Dit beteken dat ek sal doen wat Hy sê. Ek is aan Hom toegewy.
  • Ek glo dat Hy alles onder beheer het. Al lyk alles maar donker weet ons dat Hy alles onder beheer het. Ek mag dalk nie sien presies wat gebeur nie, maar ek weet dat Hy die Here is en alles onder beheer het. As ek sê dat Jesus die Here is, weet ek nie wat die nuwe jaar vir my inhou nie, maar ek weet wel Wie die toekoms in sy hande hou.
  • Ek gee myself volkome aan Hom oor. Hy het die reg om te bepaal wat reg of verkeerd in my lewe is; ek moet leef volgens sy roeping vir my. Eendag sal elke knie voor Hom buig en elke tong sal bely dat Jesus die Here is. Vir eeue is dit gebruik as die toets vir gelowiges. Ons moet dit weer ontdek: Jesus is die Here. As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word (Romeine 10:9).

 

As ons mismoedig of bekommerd of bang of eensaam is, sê “Jesus is die Here.” Sê dit hierdie Kersfees, maak dit die tema van jou lewe in 2015: Jesus is die Here.