Hoekom laat God swaarkry toe?

image_pdfimage_print

Hoekom laat God swaarkry toe? – Jan van der Watt

Pieter vra:

Hoekom laat God swaarkry, siekte, armoede, ens toe? Waar kom dit vandaan? Ek bid vir genesing, maar dit vind nie plaas nie, hoekom nie, is my geloof te klein?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Hier is heelwat vrae in hierdie twee lyne. Dit gaan oor ʼn vraag wat gelowiges oor al die eeue al besig hou. Dit is asof ons in die studeerkamer van God wil inkyk en sy planne probeer verstaan.

Dit kan nie. Daarom is daar in die Bybel die gedeeltes wat vra: Kan ons God se planne ken? (Romeine 11:33-36).

Nou word daar ʼn paar antwoorde in die Bybel gegee waarom daar lyding is, waarvan ek so paar hier gaan noem.

a) Die boek Job gaan oor die vraag van lyding. Ly ʼn mens omdat jy iets verkeerd gedoen het? Gaan alles regkom as jy weer goed doen? Met ander woorde, kan jy deur self goed of sleg te wees jou eie lot beheer? Job sê nee! Job het baie gehad en toe alles verloor. Sy vriende het vir hom kom sê dat die rede is omdat hy sonde gedoen het, maar hy wou dit nie glo nie. Hy het volgehou dat hy vir God lief is en dat dit nie die rede kan wees nie. Daar moet ʼn ander rede wees. En hy was reg. Wat hy nie geweet het nie, is dat die duiwel God uitgedaag het – hy het gesê dat Job net doen wat die Here wil hê omdat hy dan goeie dinge uit God kan kry (so ʼn soort ruiltransaksie). God het gesê dat Job Hom regtig liefhet. Toe word daar ʼn toets gemaak: wie is reg? God of die duiwel? (As God natuurlik verkeerd was, was sy eer daarmee heen, want dan was Hy nie alwetend nie en het gejok ook). Sonder dat Job dit dus besef het, het God al sy eer op die skouers van Job geplaas. Sy lyding was om God se eer en opregtheid te bevestig. In ʼn sekere sin was God se lot op die skouers van Job. Sy lyding was dus nie omdat hy iets verkeerd gedoen het nie, maar omdat Hy God se eer moes verdedig, sonder dat hy dit mooi besef het. In Johannes 9 se eerste verse vra die dissipels wie gesondig het, die blinde man of sy ouers (weer met die meganiese idee van wat jy insit kry jy terug). Jesus se antwoord was dat dit tot eer van God is. Uit hierdie verhale is dit dus duidelik dat ons nie kan insien in die planne van God en ook nie alles mooi kan verklaar nie. God weet waarom Hy dinge doen. Soos Prediker (8:17) sê: die beste en slimste ding wat ons kan doen is om te besef dat ons nie alles weet nie en daarom maar net op God te vertrou. Hy weet die beste.

b) ʼn Tweede verklaring kry ons in Openbaring. Daar ly die Christene ook baie, maar die rede is omdat alles nog nie volmaak is nie. Die duiwel (Openbaring 12-13) is hard besig om mense seer te maak en te vernietig. Daar is nog sonde en bose in die wêreld en daarom is die wêreld nog gebroke en vol pyn – ons moet egter op die eindtyd bly hoop as Jesus weer kom. Openbaring sê vir ons dat Christene in ʼn groter stryd gewikkel is teen die bose en dat dit dus nie noodwendig vanweë ons sonde is dat ons swaarkry nie. Dit is omdat die duiwel in die algemeen nog so aktief is. Solank die sonde, gebrokenheid en die duiwel nog by ons is, gaan ons nog swaarkry. Ons kan egter die swaarkry oorkom deur ons oog op Jesus gevestig te hou wat ons weer gaan kom haal en vir ewig by Hom gaan hou. Daar sal nie pyn en swaarkry wees nie.

Ons kan dus nie onsself gesond bid, of altyd verstaan waarom ons nie gesond word nadat ons gebid het nie. Deur daaroor bekommerd te wees, veroorsaak net spanning by ons en val ons geloof aan. Ons moet liewer na God bly kyk en weet dat wat ons uit sy hand kry vir ons bestem is en ons moet dit met geloof dra, al is dit vir ons baie sleg. Deur Hom is ons tot alles in staat (Filippense 4:13).

Outeur: Prof Jan van der Watt

image_pdfimage_print

You may also like...