Hoekom slaag Josua?

Hoekom slaag Josua?

Vir 40 jaar lank swerf die Israeliete in die woestyn rond – hulle droom van die beloofde land is oënskynlik daarmee heen. Toe kom die Here en gee aan Josua die opdrag om oor die Jordaan te trek – na die land toe wat Ek aan hulle, die Israeliete, gee (1:2). Hoekom slaag Josua?

Wat belangrik is, is om raak te sien dat dit nie die omstandighede was wat Josua se sukses verseker het nie – die redes lê in sy hart. Sukses lê in onsself en God se woord en nie in ons omstandighede nie.

Kom ons kyk na enkele faktore wat Josua se sukses bepaal het.

  • Besef dat jou grootheid in God geleë is. Vir mense is dit onmoontlik maar nie vir God nie, want vir God is alles moontlik (Markus 10:27). Ons kry dieselfde in Matteus 19:26. Josua ry nie Kanaän binne op ‘n swierige perd nie, maar hy trek in as gevolg van ‘n belofte van God: Soos Ek vir Moses gesê het, gee Ek aan julle elke plek waar julle kom (1:3).
  • Al God se beloftes aan ander is ons s’n deur geloof. God se woord geld vir ons. Ons moet sy beloftes in geloof aanvaar. Wat was God se belofte aan Josua? Van die woestyn af en van die Libanon af tot aan die groot rivier, die Eufraat, die hele gebied van die Hetiete tot aan die Groot See in die weste, alles sal julle woongebied wees (1:4). Die land was Israel s’n – deur geloof.
  • Moenie wag vir die regte omstandighede nie. God is met jou en jy het niks meer nodig nie. Ons kan vooruit gaan met moed. Luister wat sê God vir Josua: Wees sterk, wees vasberade (1:6). God herhaal dit nog twee maal:Wees veral sterk en baie vasberade (1:7); Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie (1:9).
  • Glo God se woord en reageer daarop. God gee nie vir Josua ‘n lang waarskuwing nie – binne drie dae moet hy deur die Jordaan trek (1:11). Israel was aan die oostekant van die Jordaan vir ‘n geslag lank. Ons was soos sprinkane in ons eie oë, en so was ons ook in hulle oë (Numeri 13:33). As jy dink jy is ‘n sprinkaan is jy een. Want soos hy in sy siel bereken, so is hy (Spreuke 23:7 – OAV). In God is ons nie sprinkane nie.

Wat gebeur hier. Toe God vir Josua roep sê Hy: Moses my dienaar is dood Maak jou gereed en trek deur die Jordaanrivier, jy en die hele volk (1:1 – 2). Soos Josua moet ons alle gevoelens dat ons minderwaardig is, weggooi. Onthou: Ons grootheid lê net in God. Dieselfde God wat by Moses was, was by Josua en is by ons.