Indeling van die psalms

 

It is not freedom for a fish to sun itself on the beach. It is death. The question of freedom is: What were you made for? – John Piper

 

Indeling van die psalms

Ons huidige 150 Psalms is saamgevat in vyf versamelings of boeke. Let op die einde van Psalms 41, 72, 89, 106 en 150. In al vier gevalle bevat die slotreëls die volgende:

  • ‘n Lofprysing aan God;
  • Die gedagte van vir altyd; en
  • Die woord

Maar reeds voor dit was daar al kleiner versamelings. Toe die 150 psalms saamgevoeg is, is sekere versamelings onveranderd gelaat. In ander gevalle is psalms tussenin gevoeg.

 

Daar is drie moontlike indelings:

 

  1. Indeling volgens die eerste vyf boeke van die Bybel
Die eerste boek van die psalms (1:1 – 41:14) Die groep word hoofsaaklik aan Dawid toegeskryf. Die groep toon ooreenkomste met die boek Genesis. Net soos Genesis vertel hoe die mens geskape is, in sonde geval het en daarna die belofte en verlossing ontvang, beskryf baie van dié psalms die mens as wese deur God geseën wat in sonde geval het en weer deur God verlos word.
Die tweede boek van die psalms (42:1 – 72:20) Hierdie groep word veral aan Dawid en die Koragiete toegeskryf en toon ooreenkomste met Eksodus. Net soos Eksodus die volk van Israel beskryf, beskryf baie van hierdie psalms ook die verval en herstel van die volk. Die Here red ons net soos Hy Israel gered het. Ons kan net ons probleme na Hom neem en Hom vra om te help.
Die derde boek van die psalms (73:1 – 89:53) Die meeste psalms word aan Asaf toegeskryf en toon ooreenkomste met Levitikus. Die tabernakel en die heiligheid van God is die tema van Levitikus, en hier gaan dit meestal oor die tempel en God se verhewenheid. Hy is almagtig, daarom kan ons Hom om verlossing vra. Hier word Hy geloof omdat Hy heilig is en sy volmaakte heiligheid vra van ons aanbidding en eer.
Die vierde boek van die psalms(90:1 – 106:48) Die skrywers is meestal onbekend. Die groep stem ooreen met Numeri. Numeri handel oor die verhouding tussen Israel en die omliggende lande. Heelwat van hierdie psalms handel oor die verhouding tussen God se koninkryk en volke. Ons is burgers van God se koninkryk, daarom kan ons altyd die gebeure en probleme op aarde in die regte perspektief sien.
Die vydfde boek van die psalms (107:1 – 150:6) Dawid het meeste van hierdie psalms geskryf. Net soos Deuteronomium oor God en sy woord handel, is die meeste van hierdie psalms lof- en dankliedere vir God en sy woord. Die meeste het oorspronklik ook musiek by gehad.

 

Dalk is hierdie vyf versamelings gebruik in openbare aanbidding parallel met die vyf boeke van Moses, want ook hierdie vyf boeke het min of meer teen hierdie tyd hul finale beslag gekry. Die priesterordes, die offers, die orkeste en die kore is eers na 515 vC (die jaar waarin die Tweede Tempel toegewy is) gevestig. Dit het tot gevolg gehad dié vorm van tempelaanbidding waarmee Jesus as twaalfjarige seun te doen gekry het toe Hy vir die eerste maal van Galilea na Jerusalem gereis het vir een van die groot feeste.

 

  1. Indeling volgens die name in die opskrifte

Hier word die psalms volgens die naam van die skrywers ingedeel: Dawid (74), Asaf (12), Koragiete (11), Salomo (2), Moses (1) en Etan (1). Hierdie indeling skep sekere probleme:

  1. In 49 psalms word die skrywer se naam nie genoem nie.
  2. Ons onvermoë om met volle sekerheid te sê dat die skrywer wie se naam in die opskrif voorkom, wel die skrywer is.
  3. Die psalms wat aan ‘n sekere skrywer toegeskryf word, lê nie altyd bymekaar nie. Hulle kom verspreid deur die boek voor,

 

  1. Indeling volgens temas
  • Wysheidspsalms – die digter maak uitsprake oor die lewe, die skepping en die openbaring wat God aan sy volk gegee het.
  • Koningspsalms – hier word verwys na verskillende aspekte van die koning se regering. Baie van hierdie psalms is later Messiaans geïnterpreteer.
  • Vertrouenspsalms – die digter se onvoorwaardelike vertroue op God staan voorop.
  • Boetepsalms – skuldbelydenis is prominent.
  • Lofpsalms – God word geloof en geprys. Dit kom baie algemeen voor en daarom sal die Psalms soms as die Loflied bekend staan.
  • Onskuldpsalms – daar word gekla oor lyding deur iemand anders veroorsaak. Die digter beklemtoon sy onskuld en die Here word dikwels gevra om die skuldiges te straf.
  • Skeppingspsalms – God se skeppingsmag word besing.
  • Klaagpsalms – die klaagliedere van ‘n enkeling of van die volk. Twee dinge is opvallend:
  • Die klaer se afhanklikheid van God; en
  • ‘n Beskrywing van die oorsake of redes waarom hy kla.
  • Vloekpsalms – die digter is so verontwaardig oor sy vyande se misdade teen hom dat hy dit beskou as misdade teen God. Daarom versoek hy God om die misdadiger selfs uit te roei.
  • Geskiedenispsalms die klem val op die groot dinge in Israel se geskiedenis en dat alles God se werk is. Dit is dade wat van God se grootheid getuig.
  • Sionspsalms – die berg Sion met die tempel, die aardse woonplek van God, word besing.
  • Troonbestygingspsalms handel oor die Here se heerskappy oor die hele wêreld.
  • Pelgrimsliedere deur die gelowiges gesing toe hulle jaarliks vir die groot feeste na Jerusalem opgetrek het.
  • Hallelujapsalms – hulle begin en eindig met die Hebreeuse woord: Halleluja.

Ons het nou lank stilgestaan by die agtergrond van die psalms. Ons kan nou na die individuele psalms kyk.