Is die gemeente vir almal?

Song and music must speak to the human heart in the fullness of worship in a way that impels you to worship – Abraham Kuyper

Is die gemeente vir almal?

Vra vir gemeenteleiers wie hulle probeer bereik. In die meerderheid van gevalle is die antwoord: Almal. Klink goed – die evangelie is immers vir almal. Maar is dit so? Hoe gouer jy die idee los dat jou gemeente vir almal is, hoe meer doeltreffend sal jy as gemeente wees. Jy bereik tans ‘n segment van die bevolking. Daar is geen gemeente wat almal bereik nie.

Die mense wat ‘n gemeente bereik, is gewoonlik ‘n spesifieke demografiese groep. Jou gemeente het ‘n styl en kultuur wat sekere groepe aantrek.

In die Westerse kultuur selekteer mense op grond van wat die organisasie kan aanbied. Jou kultuur en strategie dien as filter: jou musiek gaan sekere mense trek en ander afstoot; die preekstyl en inhoud verbind beter met sekere mense as met ander; jou leierskapstyl, plasing en gebou doen presies dieselfde. Net so belangrik is dat die mense wat reeds lidmate in die gemeente is, ander mense trek wat baie soos hulleself is.

Dit beteken nie dit is reg nie, maar dit is soos dit is. Te veel kerkleiers spandeer baie van hulle tyd om teen hierdie werklikhede te baklei. Daar is tog tye om te baklei. ‘n Gemeente sonder enige kulturele diversiteit; ‘n gemeente met net ryk mense; ‘n gemeente met net lidmate van ‘n sekere ouderdom, moet alle kerkleiers bekommerd maak en hulle moet alles in hulle vermoë doen om dit te verander. Dit beteken nog nie dat jy almal gaan bereik nie.

Die basiese reël: Die gemeente moet vir almal oop wees, maar aanvaar dat jy sekere mense beter as ander gaan bereik. Aanvaar dit. Onthou elke gemeente is net deel van die liggaam van Christus – jy moet jou deel bydra, maar moenie probeer om alle dinge vir alle mense te wees nie.

Is die gemeente vir almal of is die evangelie vir almal en die gemeente vervul ‘n rol daarin?