Is God net in my stiltetyd teenwoordig?

 

Is God net in my stiltetyd teenwoordig?

 

Vraag:

Johan Botha vra:

Is dit waar dat God ons slegs in ons stiltetyd ontmoet en nie in die wind, storms, aardbewings, ens nie? Met ander woorde: Ontmoet God ons nie in ons daaglikse lewensstryd nie.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

God is oral en altyd daar. Om jou vraag dus in die regte perspektief te stel moet ons kyk na hoe God by ons is. Hy sê dat Hy deur sy Gees in elke gelowige woon. Jy kan maar Johannes 14-17 of 1 Korintiërs 3 of 6 gaan lees waar die Bybel sê dat die Gees van die waarheid na die gelowiges toe gekom het om hulle by te staan en te lei, of dat gelowiges ‘tempels van God’ is, met ander woorde, dat God se Gees in elkeen van ons woon.

Wat beteken dit nou? Dit beteken dat God altyd en oral by ons, ja, in ons is. Daar is nie oomblikke in die dag dat God se Gees skielik besluit om ons te verlaat nie. As jy ʼn gelowige is, kan jy seker wees dat God dus altyd by jou is.

Maar daar is nog ʼn faset van die vraag wat ons moet onthou. Jy staan in ʼn verhouding met die Gees. Die Gees word byvoorbeeld in Johannes as Persoon beskryf. Neem nou die verhouding tussen ʼn man en vrou. Hulle is nie altyd ewe gelukkig nie, sit nie altyd net in die kerslig en eet saam met mooi musiek nie, maar soms voel hulle tog baie nader aan mekaar as ander tye. Dit is hoe verhoudings werk, soos golwe – soms gaan dit beter, soms nie, soms voel (en is) ons nader aan mekaar en soms nie. So werk ons verhouding met God ook. Stiltetye is daardie tye in die dag waar ons graag alleen met God wil wees en waar niemand ons moet pla nie. Daar versterk ons ons verhouding met God (soos ons ook gereeld lekker met ons vrou of man of kinders of vriende moet gesels – ons moet tyd daarvoor maak). Met krisisse en in die lewenstryd is God net so daar, maar dan beleef ons Hom miskien anders. Dit is soos met ʼn ongeluk of ʼn siekbed – my vrou sal daar wees, maar op ʼn ander manier. Net so is God by jou, maar op ʼn ander manier. Miskien voel jy in jou lewenstryd dat God miskien nie so naby is nie, maar Hy is daar. Jy moet dan maar net jou geloofsoog draai en jy sal Hom sien. Op sulke tye moet jy styf aan Hom – doodgewoon die wete dat Hy daar is – vashou.

Die interessante is dat as ons na die Bybel kyk het God op baie verskillende tye en baie verskillende maniere na mense toe gekom. Elia het God in die sagte wind ervaar, in ander gevalle kom God in ‘aardbewings’, in ander gevalle deur sy Seun aan die kruis. Dit hang dikwels van die situasie af en God ken die situasie. Daarom kom Hy na ons toe op die manier wat die beste vir ons situasie is. Ons moet net ons oë oopmaak en kyk – ons sal Hom sien.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt