1

Is God wreed?

Is God wreed? – Gustav Claassen

Marlene vra:

As mens die ou Testament lees klink dit of God so wreed was om telkens die Israeliete opdrag te gee om ‘n hele stad uit te wis. ‘n Mens dink onwillekeurig in terme van vandag se tye hoe dit sou wees … daar was ook diere, klein babatjies en kindertjies, oumense ens. As dit in ons tyd gebeur beskou ons dit as barbaars om mense en diere voor die voet dood te maak. Dit is so in teenstelling met die liefde en genade wat in die Nuwe Testament na vore kom. Maar dit is nog steeds dieselfde God van die ou Testament. Hoe verklaar ‘n mens dit?

Antwoord

Dr Gustav Claassen antwoord:

Dit is so dat die tema rondom geweld en God en die volk se betrokkenheid daarby in die Ou Testament baie meer as in die Nuwe Testament voorkom. Daar word gepraat van die heilige oorlogtradisie in die Ou Testament. God is ‘n Krygsheld en in sy naam pleeg die volk geweldsdade soos Psalm 137 na verwys. Geweld as ‘n tema funksioneer egter ook in die Nuwe Testament.

‘n Man met die naam van Marcion was so teen die bors gestuit oor die geweld in die Ou Testament dat hy geargumenteer het dat die Ou Testament nie in die Bybel hoort nie. Vir hom was die God van die Ou Testament en die God van liefde van die Nuwe Testament nie dieselfde nie.

Wat belangrik is as ons oor geweld in die Ou Testament wil praat is die volgende: Ons moet rekening hou met die rol wat literêre oordrywing en beeldspraak in die Ou Testament speel. ‘n Militêre held, in ‘n sekere tyd in Israel se geskiedenis, is baie hoog aangeslaan. Daarom is daar van God ook gepraat as ‘n militêre held en Krygsman. Daar word na God op so ‘n manier verwys veral in die tyd toe Israel hom moes vestig tussen al die ander volke en konflik en geweld aan die orde van die dag was. Dit vind binne ‘n baie spesifieke konteks plaas, baie van die geweldtekste kom uit die tyd voor Israel ‘n koning gehad het. Die beeld van God as Krygsman dui op sy soewereiniteit en mag en moenie gesien word as ‘n letterlike beskrywing van God nie. God maak Hom konkreet bekend van situasie tot situasie. In spesifieke situasies het mense dit wat hulle van die openbaring verstaan verwoord. Hierdie verwoording geskied in die taal en die beelde en voorstellingswêreld van daardie tyd. Dit is egter ook belangrik om te onthou dat met verloop van tyd het die godsbewussyn al hoe duideliker geword en is die konsep van ‘n wrede God al hoe meer uitgeskakel.

So word 2 Kronieke 20:1-30(dit is ‘n boek wat baie laat ontstaan het) aangetoon as die teks wat sê dat ‘n heilige oorlog nie uit gewelddadige menslike deelname behoort te bestaan nie, maar uit gebed, vas, aanbidding, lofprysinge, raadpleging van en geloofsvertroue in Jahwe. Ook ‘n bekende teks soos Jesaja 53(wat dateer uit die tyd na die ballingskap) is hier belangrik. Hier lees ons dat God nie meer verlos deur geweld soos met die uittog uit Egipte, deur plae en die verdrinking van die Egiptiese leër nie. God verlos nou deur mense soos die kneg waarvan Jesaja 53 praat. Die kneg is ‘n verwysing na Moses. Moses wat op die berg Nebo sterf ,vanweë die volk se sonde, sodat hulle die beloofde land kan ingaan. Verlossing vind plaas deur plaasvervangende lyding. Die kneg ly ter wille van ander.

Die lyn hiervandaan na die Nuwe Testament is voor-die-hand-liggend. Johannes 12:38 haal Jesaja 53:1 aan as ‘n verwysing na Christus. Maar hulle het nie in Hom geglo nie, van lyding en sterwe wou hulle niks weet nie. Van ‘n man wat volgens Jesaja 53 leef wil hulle niks weet nie en hulle stuur Hom kruis toe. Maar dan bid Hy daar vir hulle en toon Hy juis daar wat dit is om waarlik Kneg van die Here te wees. Kyk ‘n mens na hierdie Kneg van God en na die wet wat Hy in Matteus 5-7 as die tweede Moses op sy “Sinai” afkondig, weet jy: Dit is die pad van God en nie pad van die geweld nie. Dit is ‘n pad van die tweede myl saamstap, die ander wang draai, ook die bo-kleed gee en waar die vredemakers salig genoem word.

 

Skrywer: Dr Gustav Claassen