1

Israel en vreemde nasies – Hermie van Zyl

Johan vra:

Ek het al dikwels daaroor gedink: God het die Israeliete verbied om met ander nasies te meng, tog het Salomo, die grootste aardse koning, omgang gehad met die koningin van Skeba.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

’n Mens sou die vraag oor die boeg van sogenaamde gemengde huwelike kon gooi. Gemengde huwelike kan in ons konteks óf as rasgemengde óf as geloofsgemengde huwelike verstaan word. Indien een of beide van hierdie interpretasies die swaartepunt van die vraag uitmaak, wil ek die vraagsteller graag verwys na vorige bydraes op Bybelkennis.co.za se webblad wat dié kwessies volledig bespreek (vgl Hermie van Zyl: “Gemengde huwelike”). In my antwoord hier onder gaan ek egter net in op die kwessie dat God Israel verbied het om met ander nasies te meng, soos die vraagsteller dit verwoord.

Israel se verhouding met die omringende (heiden)nasies was kompleks. Ons moet onthou dat toe Josua die Israeliete die beloofde land, Kanaän, ingelei het, dit nie ’n leë land was nie. Dit was reeds bewoon deur allerlei ander nasies, soos die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete (vgl Eks 3:8), om die Filistyne nie te vergeet nie (Rig 13:1). En nog baie ander waarvan ons in die Ou Testament lees. En dis ook nie asof Israel sommer net kon instap en hulleself gaan tuismaak in die land van melk en heuning wat God aan hulle beloof het nie (Eks 3:8); hulle moes vir hulleself ’n plek oopveg. En selfs nadat hulle die land ingeneem het, was die heidennasies – of hulle oorblyfsels – steeds daar, en elkeen van hulle het sy eie gebruike, gewoontes en (af)gode gehad wat almal in ’n mindere of meerdere mate ’n suigkrag uitgeoefen het op Israel se leefwyse. Israel was daarom voortdurend in ’n stryd gewikkel om homself as unieke volk van God te handhaaf, maar tog ook nie in totale afsondering te leef nie. ’n Mens sou kon sê dat daar altyd twee perspektiewe teenwoordig was in die volkslewe van Israel wat mekaar in balans gehou het en soms ook in kompetisie was met mekaar, naamlik dié van uitsluiting en dié van insluiting van die heidennasies. Op die keper beskou sluit hulle mekaar nie noodwendig uit nie; hulle moet net nie na die een of ander kant toe verabsoluteer word nie (kyk slotparagraaf verder hieroor).

Die perspektief van uitsluiting was waarskynlik vir lank die dominante een, gegewe die stryd wat Israel gehad het om hulleself in Kanaän te vestig en te handhaaf. Dit het gelei tot Israel se afsondering van die omringende nasies. Die Israeliete het hulleself gesien as ’n gewyde of heilige nasie (Eks 19:5-6). Hulle het dit so verstaan: omdat die Here met hulle ’n verbond gesluit het, was hulle sy eiendomsvolk en vir Hom afgesonder (Deut 7:6); hulle moes aan God toegewy lewe, Hom alleen dien, en hulle weerhou van vermenging met ander nasies wat vreemde gebruike en afgode aangehang het (Lev 20:23-24,26). Uiteraard het dit ook ingehou dat daar nie ondertrouery met die omringende volke plaasvind nie, want dis die gouste wat Israel tot afgodery verlei sou word (vgl Deut 7:1-4; Num 25:1-4; Jos 23:12-13; 1 Kon 11:2). (Laasgenoemde teks dui op koning Salomo se baie vrouens, maar daar is geen aanduiding dat Salomo ooit met die koningin van Skeba “omgang” gehad het, soos die vraagsteller dit stel nie, tensy “omgang” ’n wyer betekenis toegeken word.) Dat Israel nie altyd so suiwer gehoor gegee het aan die verbod op ondertrouery nie, word bevestig deur die geskiedenis van Simson, een van die rigters van Israel, wat eers met ’n Filistynse vrou getroud was en later verlief geraak het op ’n ander een, Delila, en uiteindelik ’n duur prys daarvoor betaal het (Rig 14-16). Die geestelike leiers van Israel het daarom altyd gewaarsku teen heidense invloede en die volk herinner aan hulle herkoms en identiteit as God se eiendomsvolk (vgl 1 Sam 7:3). In die tyd ná die Babiloniese ballingskap (lg was in die 6e eeu vC), toe Jerusalem en die tempel herbou is, het daar ’n verskerping in die uitsluitende perspektief na vore getree. Dit word veral in die boeke van Esra en Nehemia beskryf. Nehemia het in sy hervormingspogings byvoorbeeld toegesien dat almal van gemengde herkoms van Israel afgeskei word (Neh 13:1-3); verder het hy die maatreëls van die sabbat afgedwing en ook met sy volksgenote baklei omdat hulle steeds huwelike met Ammonitiese en Moabitiese vrouens aangegaan het (Neh 13:23-27). Die ander groot hervormer, Esra, was op sy beurt so ontsteld oor hierdie ondertrouery tussen Joodse mans en die vroue van vreemde nasies dat hy hulle gedwing het om die vrouens te skei en terug te stuur na hulle onderskeie nasies toe (Esra 10). Ook in ’n buite-Bybelse boek uit hierdie tyd, Jubileë, kom hierdie uitsluitende tendens sterk na vore. Daar was dus ’n volgehoue tendens van uitsluiting teenwoordig in die volkslewe van Israel wat daarop gestaan het dat die enigste manier waarop hulle hulle roeping as Godsvolk kon uitleef, dié van fisiese afskeiding was, naamlik geen vermenging met die heidennasies nie. Maar, soos bo beskryf, het dit nie altyd in die praktyk gerealiseer nie.

Hierbenewens was daar ook die perspektief van insluiting teenwoordig, hoewel nie altyd so sterk op die voorgrond nie. Dis eerder iets wat aanvanklik slegs “tussen die reëls” voorgekom het, maar gaandeweg traksie gekry het as ’n geldige Goddelike perspektief. So lees ons van God wat aan Abraham, die vader van die gelowiges, sê dat hy enersyds ’n groot nasie sal word, maar andersyds dat deur hom al die volke van die aarde geseën sal wees (Gen 12:2-3). Die nageslag van Abraham – Israel – was dus nie net daar vir en ter wille van hulleself nie, maar ook ter wille van die wêreld. Die hele wêreld word ingesluit by die verbond wat God met Abraham gemaak het. En hierdie perspektief sien mens telkens in die geskiedenis van Israel na die oppervlak tree. Toe Israel deur Moses uit Egipte gelei is na die beloofde land toe, was daar ook ’n menigte mense van ander afkoms wat met hulle saamgetrek het (Eks 12:38). (Selfs Moses was met ’n Kussitiese vrou getroud [onder andere], ’n verbintenis waaroor hy verkwalik is deur sy suster en broer, Num 12.) Maar solank hierdie vreemdelinge tussen Israel besny is en die gebruike van Israel nagekom het, is hulle opgeneem as volwaardige Israeliete (Eks 12:48-49). Vreemdelinge het dus beskerming geniet en mag nie verdruk geword het nie (Eks 23:9; Lev 19:33-34). En toe die Israeliete Jerigo ingeneem het, is Ragab, ’n prostituut van Jerigo, en haar familie gespaar en opgeneem as deel van die Israeliete (Jos 6:25). Later is Ragab met Salmon getroud en het sy so ook een van die voorouers van Jesus geword (Matt 1:5). Verder, hoewel Ammoniete en Moabiete blykbaar nie lid van die Israelitiese gemeente kon word nie (Deut 23:3), was dit Edomiete en Egiptenare wel beskore (Deut 23:7-8). Tog lees ons later van ’n Moabitiese vrou, Rut, wat met die Israeliet, Boas, getroud is, so die oumagrootjie van koning Dawid geword het (Rut 2:2; 4:10,18-22) en ook opgeneem is in die geslagsregister van Jesus (Matt 1:5).

Verskillende tye en omstandighede het dus verskillende perspektiewe op Israel se verhouding met ander volke na vore gebring. Aanvanklik was dit merendeels individue uit ander volke wat opgeneem is in die Israelitiese gemeenskap, maar gaandeweg het daar ook ’n ander perspektief na vore getree met betrekking tot die nasies se insluiting in die Godsvolk. So lees ons in 1 Kon 8:41-43 hoe Salomo bid dat die Here ook die vreemdelinge wat nie tot Israel behoort nie se gebede sal verhoor sodat al die volke van die aarde die Here se Naam sal ken. En in Jes 56:3-7 word die tempel in Jerusalem as die geloofshuis van al die volke van die wêreld voorgehou. Israel moet as ’t ware soos ’n ligbaken uitstaan waardeur die nasies aangetrek word sodat die roem van God vermeerder kan word (Jes 60:1-7; vgl 42:6; 49:6). En uiteindelik maak die Here vir Hom uit al die nasies en taalgroepe mense bymekaar wat die mag van die Here sal sien en Hom sal dien. So sal daar ’n nuwe hemel en aarde tot stand kom wat in diens van die Here sal staan (Jes 66:18-24).

By terugskou oor insluiting en uitsluiting kan ’n mens sê dat ons in die Ou Testament hoofsaaklik ’n middelpuntsoekende beweging van die nasies na Israel toe het. Israel word voorgehou as ’n bastion van heil, as ’n lig vir die nasies wat die nasies na hom toe aantrek sodat hulle daar heil kan vind. Dis eers in die Nuwe Testament dat daar ook ’n middelpuntvliedende beweging plaasvind, waar die volk van God / die kerk die opdrag ontvang om uit te gaan na die nasies en hulle dissipels te maak sodat die lewende God aanbid kan word (Matt 28:18-20). Maar ook in die Nuwe Testament sou dit nog lank duur voor die insig ten volle deurgebreek het dat God se heil oopstaan vir die hele wêreld en nie beperk is tot ’n enkele nasie, Israel, nie. Die gebeure van Hand 15 bevestig dit. Hier moes die kerk ’n definitiewe besluit neem dat dit nie meer van die heidene wat toetree tot die kerk (wat nog hoofsaaklik uit voormalige Jode bestaan het) verwag sou word om hulle te besny nie. Al wat nodig is, is die geloof in Jesus Christus.

Ten slotte net nog ’n enkele opmerking oor die verhouding tussen insluiting en uitsluiting soos dit die Godsvolk se verhouding tot die heidennasies raak. In die Ou Testament het uitsluiting gedomineer, hoewel daar talle individuele gevalle was waar heidene ingesluit is die Godsvolk, mits hulle die verbondsvereistes nakom. Gaandeweg het daar profetiese vistas geopen van al die nasies wat na Israel stroom en so deel van die Godsvolk word. Dis eers in die Nuwe Testament dat die beweging weg van Israel ontstaan het en die heil wat God bied al minder ’n nasionalistiese inslag gekry het rondom Israel. Tog was die insluiting nooit onvoorwaardelik nie; die voorwaarde was altyd geloof in Jesus Christus en of jy jou onderwerp aan sy leer en lewe, of jy bereid is tot navolgingskap van Jesus. Hy is die bepalende faktor. Hoewel alle nasies dus nou vrye toegang tot God se heil in Christus het (jy hoef nie eers ’n Jood te word, soos in die Ou Testament, om tot die Godsvolk te behoort nie), gaan dit steeds met “uitsluiting” gepaard: wie hulle nie wil onderwerp aan die heerskappy van Christus nie, mag dalk hoor: Gaan weg ek het julle nooit geken nie (Matt 7:21-23). En verder sal die kerk van Jesus altyd ’n onderskeidende lewensuitkyk en -styl hê wat hulle anders maak as die wêreld, maak nie saak in watter gemeenskap die kerk hom bevind nie. Soos Petrus dit stel, met ’n aanhaling van dieselfde teks waarmee oud-Israel hulle van die heidennasies afgeskei het (Eks 19:5-6): “Julle is ’n uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom, ’n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig” (1 Pet 2:9). Daarom, die kerk se lewenswandel moet heilig wees; “wees heilig, want Ek is heilig” (1 Pet 1:15-16).

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl