Jesaja – Die derde tot die sesde weeklag (5:18-24) – Francois Malan

5:18-23 Die volgende vier ‘ellendes’ dui die oorsake aan vir Jerusalem se aanstaande smart. Hulle smart is egter die straf op hulle lewenswyse en gedrag.

5:18-19 Die derde ellende openbaar die skynheiligheid en selfbedrog van hulle dade wat hulle woorde weerspreek. Die beelde wat die profeet skilder is van ‘n arbeider wat ‘n bondel dra en ‘n waentjie sleep, albei van sy sondes wat aan hom vasgebind is, om te wys dat Jerusalem ‘n volle lading sonde dra (letterlik: Wee julle wat sonde dra/trek met bande van valsheid/nietigheid, en sondigheid met die tuie van waens ). Vanweë hulle afgodsdiens bring hulle die onheil oor hulle self. Maar hulle praat asof hulle daarna uitsien om te weet wat die Here se plan met hulle is, onbewus dat die Here net oordeel oor hulle bedink. Hulle weet nie dat hulle vra vir ‘n harde oordeel van die Here nie. En dan vra hulle nogal dat dit gou moet gebeur, en noem Hom ‘die Heilige van Israel’ wat moet kom oordeel oor hulle onheilige lewe (vgl. Amos 5:18-20, twintig jaar voor Jesaja teen Israel; en 120 jaar na Jesaja Jeremia 7:4-11 teen Juda en Jerusalem).

5:20 Dié weeklag kom oor ‘n reeks van drie verdraaiings, wat impliseer dat Jerusalem sy onderskeidingsvermoë totaal verloor het deur hulle selfbevrediging, wat slegs na korttermyn voordeel kyk. Dit is waarskynlik eufemismes vir ons huidige terme van ‘inkorting’ (downsizing) wat lei tot werkloosheid, ‘geleentheid’ vir onbeperkte mag vir die sterkes, en ‘wet en orde’ vir die behoud van die status quo. Die wee-uitroep bevestig dat die manipulasie en bedrog om hartelose uitbuiting met mooi woorde te omskryf tot ‘n harde en jammerlike einde sal kom. Die devaluasie van woorde is ‘n kenmerk van korrupsie en ‘n instrument vir valse propaganda; terwyl waarheid, akkuraatheid en integriteit die onontbeerlike voorwaardes is vir ‘n gesonde gemeenskap.

5:21 Die vyfde weeklag in die reeks waarsku teen outonomie, waar jou eie wysheid en kennis van tegniese dinge gebruik word sonder die groter verwysing na die Here se vereistes vir sy kinders. So’n morele selfstandigheid lei tot ‘n sosiale ramp, al dink die ‘wyses’ en ‘slimmes’ dat hulle immuun is teen die bedreiging. ‘Wysheid’ en ‘verstandigheid’ is gawes van God, soos aan Josef (Gen 41:38-39) en Dawid (1 Sam 16:18; vgl. Jes 11:2) vir die goeie orde van die samelewing. Maar as dit gebruik word vir selfverheerlikking (‘in eie oë’) is dit ‘n verdraaing van waardes (Spr. 26:12).

5:22 -23 Met die sesede weeklag kom die digter terug na selfbevrediging met drank (soos in v11). Dit gaan nie om die drank as sodanig nie, maar die gevolge van die glorie van die ‘helde’ by die drinkery en die mense met mag, wat die drank meng. Dit versteur die openbare orde;’n regverdige regstelsel stort in duie, en teen ‘n prys gee howe uitspraak ten gunste van uitbuiters; die onskuldiges staan geen kans nie. Daarmee verval ‘n menswaardige samelewing. (Ef 5:18 sê: drank maak jou bande en remminge los, wat jou op die regte pad moet hou). Die woord ‘regverdig’ kom driemaal in vers 23 voor: ‘…wat die slegtes regverdig vir omkoopgeld en die reg van die regverdiges van hulle ontneem,’ so anders as die God van hierdie volk (5:16).

5:24 Die effek van die ses ‘ellendes’ wat op hulle wag, neem toe. Die digwerk beskryf ‘n samelewing wat sy middelpunt verloor het, en sy verwysingsraam, en sy fokus, en sy doel, en sy geleentheid om goed te lewe. Daarom volg daar twee kort harde profetiese ‘daaroms,’ wat die Here se negatiewe besluit oor hulle bekendmaak. Die eerste aanklag is dat Israel die Here van die leërskare se onderwysing of wet verwerp het as hulle norm en gids vir hulle sosiale orde. Dit kom neer op ‘n verwerping van die Heilige van Israel (die Here wat aan Israel toegewy is). Sy woord en wet is aan Hom verbind. Die gevolge van die verwerping van sy waarskuwingswoord en daarmee vir Hom, word uitgedruk met ‘n plantbeeld: ‘n tong van vuur wat stoppels verteer, wortels wat vrot, en blomme wat soos stof wegwaai – alles spreek van mislukking en vernietiging tot niks.

Skrywer:  Prof Francois Malan