1

Jesaja – Die eerste twee ellendes (5:8-17) – Francois Malan

5:8-25 Anders as 5:1-7 se digterlike taal, is 5:8-25 in meer leerstellige terme. Die sesvoudige ellende (verse 8,11,18,20,21,22) wat vir die volk van die Here wag, word gevolg deur twee profetiese uitsprake (verse 24,25). Die ellende wat kom (telkens ingelei met Hoi van die klaagsange/lyksange: ‘Ag!’ of ‘Wee!’) is die verwagte rouklagte van dié wat gaan sterf as gevolg van hulle onaanvaarbare gedrag teen die weerloses. Dit is treursange waarna God nie luister nie, want hulle eie optrede lei tot hulle dood.

5:8-10 Die eerste ‘wee!’ sal gesing word deur hulle wat op ekonomiese gebied hulle eie ondergang bewerk het. Dit is gerig teen die volk se onversadigbare grondhonger en die gepaardgaande verdukking van die armes (vgl. die tiende gebod Eks 20:17; Deutr 5:21 jy mag nie begeer nie; en Lev 25 se sabbatsjaar, wanneer grond teruggegee word). Die gevolg van die oorname van die kleinboere se grond is die ontvolking van die land, totdat die groot grondeienaars alleen oorbly in die land, sonder gemeenskappe van mense. ‘In my ore (sê die profeet) het die Here van die leërskare (gesê): vir seker (soos in ‘n eedswering) baie huise sal vernietig word (soos mense uitgekoop word deur die rykes), ook die grotes en mooies (van die grondbaronne) sal ruïnes wees (met hulle eienaars in ballingskap weggevoer’ –vgl. Amos 3:15. Die oeste sal onwinsgewend karig word: een gomer (tiende van ‘n efa) wat gesaai word, lewer slegs een efa graan (23 liter) as oes. ‘n Land wat deur 10 pare van 2 osse op een dag geploeg kan word (ongeveer 4 hektaar) lewer slegs ‘n bat (23 liter) druiwe – deur die droogte. Uitbuiting van jou bure word gevolg deur jou verminderde oeste.

5:11-12 Die tweede weeklag is deur die dronkaards en die rykes se fuifpartye: die konsentrasie op drink en plesier verhinder enige aandag vir wat die Here doen, vir die werke van sy hande. Israel se grootse tekortkoming was hulle onvermoë om God se plan en die uitwerking daarvan raak te sien. Die visioen van Jesaja beweer dat al die gebeure in die geskiedenis van Ussia af (720 v.C.) tot na die ballingskap in Babilon (450 v.C.) God se handewerk is, wat inpas by sy plan met sy volk om van hulle, wat arrogante afgodsdienaars geword het, nederige en sober dienaars van die Here te maak.

5:13 ‘Daarom… word my volk in ballingskap weggevoer, weens hulle gebrek aan kennis (van die plan en wil van God vir hulle); hulle geëerdes (grondbaronne wat so woes feesvier) ly honger en hulle menigte (gewone mense aan drank verslaaf) vergaan van die dors (op pad, aangejaag na hulle ballingskap).’ Waar die Here regeer word rekenskap geëis van afbrekende optrede teen medemense en, deur soos die heidene te lewe, is die Here se land verontreinig.

5:14 ‘Daarom..’ Die doderyk (sje’ool die onderwêreld) word voorgestel as ‘n gulsige monster wat nie genoeg kry nie (Spr 27:20; 30:15-16; Hab 2:5). Soos ‘n swart gat wat sterre insluk, sal die dood Jerusalem, sy vooraanstaandes en sy menigte opslurp, verteer en uitwis. Hulle glorie (hadarah) en rykdom (hamonah) en geraas (sjeonah) waarin hulle hulle verlustig het, sal saam met hulle daarin afdaal. Israel se voorste mense is dood as gevolg van hulle foutiewe idee van gejubel en bravado.

5:15’ So word die mense verneder, manne word verneder en die hoogmoedige oë kom tot ‘n val.’ 2:9 het gesê mense wat hulle voor hulle eie handewerk (afgode) gebuig het, het tot ‘n val gekom.

5:16 Die skrywer skets hier die teendeel van die ellende van die ballingskap en die doderyk. Die Here word groot gemaak deur sy mense se konkrete dade van reg en geregtigheid, wat Hy van sy wingerd verwag het (5:7). Dit is die enigste manier om die Here te verhoog (letterlik: die Here van die leërskare sal groot gemaak word deur reg, en die Heilige sal geheilig word deur regverdigheid – in die samelewing).

5:17 God se oordeel sluit af met ‘n skynbaar idilliese prentjie van ‘n weiveld met genoeg weiding; hier egter as beeld van lewe op die puinhoop van die stad Jerusalem. Die eens besige en vooruitstrewende stadsgebied met sy geboue en banke is nou ‘n rustige weiveld sonder enige besigheidslawaai (vgl. Jesaja se tydgenoot se voorspelling, Miga 3:11-12). Die vertaling van 5:17 is moeilik. Letterlik: skape sal wei soos in hulle weiveld, en vreemdelinge sal die puin van die vettes/rykes eet.

Skrywer:  Prof Francois Malan