Jesaja – Hiskia se flater (39:1-8) – Francois Malan

Die eerste deel van Jesaja (hoofstukke 1-39) sluit in hierdie hoofstuk af met Hiskia se tyd (714-686 v.C.). Die nuwe wêreldmag word ook bekendgestel, Babilon, wat onder Nebukadneser (605-562 v.C.) vir Juda 105 jaar ná die tien stamme se ballingskap in 702 v.C., in ballingskap begin neem in 597 v.C. en nog tien jaar later Jerusalem in 587 v.C. verwoes. Die hoofstuk haal, met enkele wysigings, 2 Kon 20:12-19 aan (vgl. ook 2 Kron 32:25-31).

39:1 Merodak-Baladan  was ‘n slim leier van die Yakin-stam wat Babilon regeer het van 722-711 v.C. en weer van 705-703 v.C. Hy was die leier van die volke wat in die Ooste teen Assirië in opstand gekom het. Dit plaas hierdie gebeure nog voor Sanherib se wegtrek van Jerusalem af in 701 v.C. toe Hiskia en Merodak-Baladan moontlik nog saam planne gesmee het teen Assirië. Dit plaas ook Hiskia se siekte en herstel nog voor die beleg van Jerusalem as ‘n simbool van die benoudheid en die verlossing van Jerusalem, wat die stad se ondergang en sekere dood met rouklere aan betreur het, en wonderbaarlik deur die Here verlos is, soos Hiskia se dood wat uitgestel is.

Die Babiloniërs bring briewe en geskenke ná Hiskia se herstel. Die briewe/dokumente? kon oor hulle gesamentlike teenstand teen Assirië gegaan het. Die geskenke kon tekens van vriendskap of verbondenheid wees, ‘n goeie diplomatieke gebaar.

39:2 Die verhaal gebruik die woord ‘huis’ 3x in vers 2 (bajit – skathuis, wapenhuis, sy huis – kan ook na sy familie verwys), 2x in v4, 1x in vs 6; en ‘jou vaders’ v6; ‘jou seuns’ in v7. (Babel se koning bly in ‘n paleis – heekal). Hiskia sal nie in ballingskap gaan nie, maar sy kinders en familie en sy koninkryk sal.

Hiskia se vreugde en die vertoon van al sy vermoëns kan ‘n aanduiding wees van sy vroeëre hoop om saam met Babel teen Assirië op te staan (ná sy boete wat Sanherib hom opgelê het, 2 Kon 18:14-15, kon hy nie veel oor gehad het om nog oor te spog nie). Daarby is daar ook ‘n stukkie grootheidswaan en spog met alles wat hy toe nog gehad het, en waarop hy kon vertrou. Dit stel egter die Babiloniers in staat om die sterkte van Juda haarfyn te bepaal, en dit is daarom ‘n dwase optrede en ‘n gebrek aan vertroue op die Here (vgl. Jeremia 9:23-24 se verklaring net voordat Juda na Babel toe weggevoer is). Soos sy pa Agas ’n flater begaan het om Assirië as bondgenoot te kies en later deur hulle oorstroom is, begaan Hiskia die flater om Babel as sy bondgenoot te kies, wat later vir Juda en Jerusalem inneem.

39:3-4 Die koms van die profeet Jesaja wys dat die doel van die optekening van die gebeurtenis nie is om die koningskap van Hiskia te beskryf nie, maar om die woord van die Here en sy beoordeling van Hiskia se optrede  weer te gee. Jesaja is hier op ‘n feite-ondersoek met drie vrae oor die besoekers se rede vir hulle koms,  hulle herkoms, en wat hulle in sy huis gesien het. Hiskia antwoord openlik en skynbaar onskuldig oor sy huis en alles wat hulle gesien het, die mense wat van ‘n vér land gekom het – en kan daarom seker geen begreiging wees nie? Hoewel die ‘huise’ na koninklike geboue verwys, verwys sy huis en sy heerskappy/koninkryk ook na sy gesin as afstammelinge van Dawid aan wie die Here beloof het dat sy huis en sy heerskappy/koninkryk vir altyd sal vasstaan (2 Sam 7:16).

39:5-7 Jesaja se tweede woord kondig die Here se oordeel oor Hiskia se optrede aan. Die straf pas by die oortreding: alles wat Hiskia aan die Babiloniërs gewys het, sal na Babel geneem word – Hiskia se ‘alles in my huis,’ en ‘niks van my skatte wat hulle nie gesien het nie’ vers 4, word ‘alles wat in jou huis is,’ ‘al die skatte,’ en ‘daar sal niks oorbly nie’). Sy seuns sal hofslawe word in die paleis van die koning van Babel – vgl. Hiskia se nakomeling Jojagin se wegvoering in 2 Kon 25:12-16; 2 Kron 36:6 sê Jojagin is in bronskettings Babel toe (vgl. Jer 22:26-27).

39:8 Hiskia berus in die woord van die Here: ‘dit is goed.’ Hy aanvaar dat Juda na Babel weggevoer sal word ná sy tyd. Maar sy byvoeging is misplaas: ‘As daar maar net in my tyd vrede (sjalom toestand van volkome geluk) en ‘vastigheid’ bestendigheid is. Twee jaar later was die Assiriese leër egter rondom Jerusalem en sy hoop op vrede en bestendigheid daarmee heen, totdat die Here ingegryp het. ‘n 115 jaar later in 586 v.C. is Jerusalem totaal verwoes deur die Babiloniërs.

Hierdie laaste hoofstuk van die eerste deel van Jesaja plaas die Babiloniese bedreiging, wat die politieke mag van Jerusalem sal beïndig, op die voorgrond. Die hoofstuk kyk terug om die waarskuwings van die profeet Jesaja as woord van die Here te bewys, en kyk vorentoe na die stryd in en tydens Juda se ballingskap. Daar is egter ‘n groot breuk in die boek tussen hoofstukke 1-39 wat die waarskuwings en bedreigings bevat en hoofstukke 40-66 wat oor die uitkoms en terugkeer na Jerusalem handel. Die geskiedenis van die 70 jaar ballingskap word nie vertel nie. Die breuk raak ook aan dat die Here Israel se  koningskap, tempel, stad en volk laat vaar,  om ‘n nuwe volk te skep met die oorblyfsel wat aan Hom, deur die loutering van die ballingskap, toegewy is.

Skrywer:  Prof Francois Malan