1

Jesaja – Israel se skuld, straf en verwerping (1:4-15) – Francois Malan

Die deel brei uit op Israel se rebellie teen die Here (Jahweh, die aktiewe teenwoordige ‘Ek is’ wat met hulle ‘n verbond gemaak het). Die uitgebreide gedig is ‘n toespraak in ‘n hofsaak. Die Here kla Israel aan (1:4) met ‘n klaagsang oor Israel se ware en treurige situasie (1:5-9); Hy weier om na Israel om te sien wanneer hulle in ‘n noodsituasie beland (1:10-15).

1:4 Die aanklag gebruik ‘n reeks van sewe woorde vir sonde: (i) sondig (chata’ oortreding, doel mis), (ii) met skuld belaai (‘ewoon verdraai) – die twee woorde wat Israel se mislukking beskryf, saam met ‘rebellie’ in v2 (pesja‘ opstand) is dit die drie hoofterme vir sonde in die Ou Testament – (iii) verkeerd optree (ra‘a‘ sleg/boos, waardeloos) en (iv) afbreek (sjachat verdorwe, vernietig) plaas hulle saam met misdadigers, (v) verlaat (‘azab verlaat, skei) wat 23x in Jesaja voorkom, en (vi) verag (na’ats versmaai, minag) van die Here, wys na die verbreking en ignorering van hulle verbond met die Here, soos die woord aandui (vii) rug draai op Hom (nazar onttrek aan) wat alles opsom. Die gedig beklemtoon dat Israel ten volle, op elke moontlike manier, teen die Here gedraai het, teen die verhouding wat vir hulle die lewe inhou. Alle verhoudings met die Here aan wie hulle intiem verbonde was, is verbreek. Israel is nou stokalleen deur sy eiewilligheid en hardkoppigheid.

Die Here (die aktiewe teenwoordige ‘Ek is’) word genoem ‘die Heilige van Israel’ (dié naam kom 25 maal in Jesaja voor). Dit is ‘n paradoks wat sê dat die Here intiem met Israel verbind is, volstrek aan hulle toegewy, en ook dat die Here ontsagwekkend is en dat nie van sy liefde misbruik gemaak mag word nie. Die uitdrukking getuig van die Here se vryheid om Israel as sy gunsteling onder die volke uit te kies, en die rampspoedige toekoms wat Israel vir homself skep met sy optrede wat van die Here ‘n bespotting maak. Vers 1 het Juda en Jerusalem aangewys as dié mense oor wie die visioen handel. Hier word hulle Israel genoem, die erenaam wat die Here aan Jakob gegee het (Gen 32:28; Jes 44:1-2). Na die 10-stamme weggevoer is na Asisirië, het Hiskia dié Israeliete wat agtergebly het, deel van die paasfees in Jerusalem gemaak (2 Kron 30:1-31:1).

Die vers begin met ‘n rouklag (hoi helaas, o, wee!). Daarmee berei die skrywer ons voor om te kyk hoe hierdie geliefde skepping van die Here besig is om homself te vernietig.

1:5-8 ontvou die gevolge van Israel se optrede in vers 4. Diep oop wonde en siekte en sere van kop tot tone, word as metafore gebruik om die volk se toestand te beskryf, wat in vers 7 verduidelik word. Die tien stamme is reeds as slawe in ballingskap, en Juda wat agtergebly het, word bedreig deur die inval van die Assiriërs wat brand stig, en plunder en moor – daar is nie meer een heel plek nie! Gevolglik is die ‘dogter van Zion,’ naamlik Jerusalem, verlate en het alleen van al die stede oorgebly – soos ‘n enkele tydelike takskuiling in die wingerd en soos ‘n wagtershut in ‘n groot komkommertuin, met die res van die land in die hande van die wrede soldate van Assirië wat net brandende dorpe en verwoeste velde agterlaat (vgl. Jes 10:28-34). Met klem word die woord verwoes en ontvolk in vers 7 tweemaal gebruik van die stede en van die hele land van Israel; en tweemaal die woord ‘vreemdes’ wat Israel se land en stede voor hulle oë verteer. Jerusalem is soos ‘n belëerde stad, met ‘n sterk klipmuur omring, maar eintlik omring deur die verbrande stede en velde in die land, wat sy eie verbranding voorspel (vgl. 2 Kon 18:13-16; Sanherib se geskrif spog dat hy 46 versterkte stede van Juda verwoes het; talle klein dorpies oorrompel het en 200,150 mense weggevoer het). Die lëers van Assirië is slim geïdentifiseer as die verwoesters, as ‘n gevolg van Israel se opstand teen die Here. So word Assirië ook simbool van alle verwoesters van God se skepping, ook van die Galdeërs wat vir Juda en Jerusalem later in ballingskap na Babel wegvoer.

1:9 Jerusalem word vergelyk met Sodom en Gomora wat totaal uitgewis is deur die Here (Gen 19:23-25). Maar die Here, die Almagtige (van die leërskare van die hemel en van die Assiriese leërs) het vir ons, van Jerusalem en Juda, ‘n oorlewende uit die stryd laat oorbly (in hoofstukke 36-37 word die hele verhaal van die redding van Jerusalem vertel, vgl. 37:36). Dit is die begin van die Here se belofte in Jesaja se visioen van ‘n oorblyfsel of res wat sal oorbly (sje’ar, 4:3, 7:3 Sje’ar-jasjub ‘die oorblyfsel keer terug’).

1:10-15 Die digter gaan ‘n stappie verder as in 1:9 waar Jerusalem teenoor Sodom en Gomorra gestel is. Die leiers in Jerusalem word nou self geïdentifiseer as Sodomsleiers en die volk van Juda word Gomorrasvolk genoem. Die geliefde heilige stad word genoem na die afskuwelikste naam denkbaar (vgl. Amos 4:11, reeds 10 jaar voor Jesaja; en Jeremia 23:14; 16:46-49, 70 jaar na Jesaja). Die volk en leiers wat in die oë van die Here verfoeilik lewe, word opgeroep om vir nog een keer na die Here se siening van hulle en sy woord te luister en hulleself daaraan te toets.

Die tempel staan in die middel van Jerusalem en is die plek waar die offers gebring word om die volk se verhouding met die Here reg te maak. Israel se hele godsdienstige praktyk word deur die Here veroordeel:

Hulle menigte offers – brandoffers van ramme, vet van voerbeeste, bloed van lammers en bokke

Hy is sat daarvan en het geen begeerte daarna nie (vgl. Ps 50:8-13).

Hulle kom om die aangesig van die Here in die tempel te sien – so baie keer dat hulle sy voorhof vertrap

Wie het dit van hulle gevra – nie die Here nie!

Moenie voortgaan om julle bose nuttelose offers te bring nie (met verkeerde motiewe)

Dit is vir My afskuwelike wierook

Nuwemaansfeeste (Num 28:11-15; 1 Sam 20:5) en Sabbatte, en die uitroep van samekomste –

Ek verdra nie onreg saam met feesdae nie

Ek haat julle nuwemaanfeeste en Sabbatte – hulle is vir my ‘n las, Ek is moeg daarvoor

En wanneer julle julle hande uitstrek (in gebed) – sal Ek wegkyk van julle af

Selfs al bid julle ook hoe baie – Ek sal nie luister nie

Julle hande is vol bloed

Die Here noem die offers by die naam en verwerp hulle deur hulle te noem. So ook die feeste en die Sabbat omdat dit nie meer draers van ware gemeenskap met God is nie. Die Here verwerp al Israel se gebruike en gebare om Hom te dien op die Sabbatte en met die feeste, want dit is nie meer die uitinge van ‘n ernstige verhouding met Hom nie. Hy verfoei onopregte nuttelose offers – feesviering saam met onreg (v13) . Die Here haat skynheilige vertoon. Die Here luister nie meer na hulle baie gebede nie, want hulle hande is met bloed bevlek deur hulle aandadigheid aan moord. Die Here verbied daarmee die kernmomente van die Jode se godsdiens: hulle offers, eredienste, feesdae, gebede, Hulle het hulle verbondsverhouding met die Here verbreek deur hulle onopregte diens aan Hom, met hulle onreg teenoor mense en met moord.

Skrywer:  Prof Francois Malan