Jesaja – ‘n Seun is gebore (8:23-9:6) – Francois Malan

8:23 Hierdie uitspraak van die Here bied aan Juda ‘n ander moontlikheid. Teen die donker agtergrond van hulle politieke, militêre en ekonomiese nood, sien die profeet die lig van redding uit die ellende. Dit kom deur die geboorte van ‘n seun en onverdeelde trou aan die Here. Sebulon en Naftali, die noordelike stamme van die tienstammeryk, se gebiede is deur die Assiërs verwoes en die mense weggevoer in ballingskap (732 v.C., 2 Kon 15:29). Die pad na die see van Galilea toe en die Jordaanstreek word genoem die gebied van die heidene – die gebiede sal in die toekoms in ere herstel word (Nasaret is in die ou gebied van Sebulon en Kapernaum in Naftali). Die toekoms word teenoor die verlede gestel: die verlede se ellende as die tyd van Agas en die hoopvolle toekoms van sy seun Hiskia se regering; in die lig van die hele boek Jesaja is die verlede die tyd van die twee ballingskappe van Israel 722 v.C. en Juda 597 v.C. en die toekoms as die terugkoms ná die ballingskap. Met die koms van Jesus Christus is die verlede die tyd van die Ou Testament en die toekoms die tyd van die Nuwe Testament; die toekoms word telkens ingelei deur ‘n koning uit die geslag van Dawid. Maar die boodskap is ‘n heerlike bevestiging dat die Here, deur ‘n menslike koning uit die geslag van Dawid, telkens ‘n nuwe moontlikheid skep, selfs in die ellendigste van tye.

9:1-6 is ‘n gedig, ‘n loflied, wat uitdrukking gee aan die vreugde van die volk van die Here oor hulle verlossing uit die ballingskap deur die Here, en sy herstel van die land en sy mense. Die gedig word gekenmerk deur drie momente:

9:1-2 Die eerste eienskap: die skitterende nuutheid van die sosio-politiese horison van Juda. Die duisternis verwys na die wanhoop en verdrukking onder die hand van Assirië (8:22-23). Maar nou lig! Die lig van redding en bevryding sal weer oor die volk van die Here skyn. Lig word gereeld verbind aan die koms van die Here se ‘heerlikheid’(6:3), die sigbare bewys van die Here (Jahweh die Ek is) se aktiewe teenwoordigheid waar dit vir Juda gelyk het dat die Here totaal afwesig was.

Matteus 4:12-17 verbind hierdie teks aan Jesus se vestiging in die gebied van Sebulon en Naftali.

Om die diepte en krag van die vreugde te verduidelik, gebruik die digter twee situasies wat groot vreugde bring:

Die een is die vreugde oor die oes, wanneer die oes ingesamel is, veilig teen weersomstandighede, en waar die oorvloed die waarborg is vir die volgende seisoen.

Die tweede toneel skilder die verdeling van buit ná die vyand oorweldig is. Met sy teenwoordigheid by hulle, verbly die Here hulle met ‘n groot blydskap, vir die nasie wat nie meer ‘n nasie was nie, maar nou, ná die ballingskap, deur die Here baie gemaak is. Die toekoms is so seker dat dit reeds in die teenwoordige tyd gestel word.

9:3-4 Die tweede moment: die groot verandering word teweeg gebring deur lewendige militêre optrede deur die Here. Die volk se lot is deur die Here verander deurdat die Here die mag van hulle verdrukkers verbreek het. Die juk en die slaanstok verwys na Assirië in die hand van die Here van die leërskare. Die redding word vergelyk met die Here se optrede aan die hand van die Midianiete (Rigt 6:2-6), en Israel se verlossing deur Gideon en sy klein bende van 300 man (Rigt 7:6-7). Die gedagte om oorlog te voer en elke herinnering aan die ellende van die oorlog se geweld, word deur die Here uitgewis. Die Assirieers (en later die Babiloniërs) word uitgewis (deur die Meders en die Perse as werktuie van die Here van die leërskare).

9:5-6 In die derde deel van die gedig word die koninklike agent wat die Here gebruik genoem, ‘n seun wat die troonopvolger gaan wees, en van wie ‘n baie beter bedeling verwag word. Dit is ‘n rede vir groot vreugde. Die reeks oordrewe koninklike name dui aan dat die nuwe koning al die verwagtinge van die volk sal vervul en verantwoordelik sal regeer oor die Here se volk: ‘n wonderlike raadgewer – ‘n wyse koning wat baie goed kan onderskei en nie die dwaashede van sy voorgangers sal herhaal nie; magtige God – met al die mag wat nodig is vir ‘n leier sal hy sy volk teen elke moontlike bedreiging kan beskerm; ewige Vader – sy koninklike titel, onder wie se vaderlike sorg die volk rustig kan lewe na die angsvolle jare onder die vorige konings; Vredevors – wat die deurmekaar lewe en onderlinge stryd tot rus sal bring ook in die verhouding tot die ander nasies, en die vrede, welvaart en voorspoed van sy volk sal bevorder.

Die prysname was tipies van die Midde-Ooste en Egipte se lof aan hulle konings, en word hier in Israel se verbond met die Here opgeneem om die koning, wat die Here aanwys, te prys. Vir Juda was dit Hiskia wat sy pa opgevolg het en in Israel se geskiedenis opgeteken is as iemand wat gedoen het wat reg is in die oë van die Here (2 Kon 18:1-3). Soos Dawid sal sy heerskappy uitbrei, maar anders as Dawid sal dit nie met militêre geweld uitbrei nie, maar onder sy koningskap sal daar vrede en voorspoed heers. Hy sal op die troon van Dawid sit soos die Here beloof het in 2 Sam 7:12,16. Hy sal sy koninkryk vestig en in standhou, nie met wapengeweld soos Assirië nie (10:7), of deur verdrukking en politieke dienstigheid nie, soos dit voor hom geskied het nie (1:17,23; 3:14; 5:7), maar met reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Die waarborg dat dit alles so sal wees, lê in die onverdeelde trou (letterlik: ywer – wat toewyding of jaloesie kan aandui) van die Here van die leërskare. Met sy toewyding sorg die Here vir Juda en Jerusalem se vooruitgang; met sy jaloesie beskerm die Here sy reputasie en geloofwaardigheid. Die nuwe Dawid se regering deur reg en geregtigheid sal die sigbare teken wees van die Here se ywer. In die koningin van Skeba se oordeel oor Salamo se regering besing sy sy wysheid, en dat hy reg en geregtigheid oor Israel handhaaf (1 Kon 10:8-9; 1983- vertaling: orde en reg). Dit is wat die Here van ‘n volk en ‘n regeerder verwag (Jes 5:7). Die poësie van hierdie visioen strek egter ook verder as die tyd van Jesaja, Agas en Hiskia. In Matteus 4:13-17 word die Jesaja-teks opnuut gehoor en toegepas op die geweldige verandering wat Jesus teweegbring. Hy is die groot Lig wat alles nuut maak, juis in die tyd toe Johannes die Doper in die tronk sit (Mt 4:12) en die volk verdruk word deur die mag van die Romeinse heersers. Jesus verkondig die koninkryk van die hemel (Mt 4:17) teenoor die heerskappy van Herodes.

So is die Jesaja-teks ook van toepassing op elke eeu, dat ons die groot Lig sal sien en ons tot God bekeer om te lewe as burgers van die hemelse koninkryk, met wysheid, reg en geregtigheid te midde van die duisternis van die aardse magsspel wat om ons woed.

Skrywer:  Prof Francois Malan