1

Jesaja – ‘n Sondige volk (42:18-25) – Francois Malan

In 18-25 onderbreek die profeet die heilsaankondiging met ‘n breë beskrywing van Israel se nood in die ballingskap met nadruk op hulle sonde as die oorsaak daarvan. Dan volg 43:1-8 opnuut met die belofte van verlossing.

42:18-20 Hier is die Here self aan die woord. Hy spreek sy dienaar en boodskapper, Israel, aan, wat nog voortgaan om teen die Here te kla oor hulle huidige hopelose situasie, soos in 40:27: die Here sien nie raak wat van my word nie, my reg gaan by my God verby. In Ps 44:9-12 word so ‘n klagte breër uitgespel deur die oorblyfsel in die lied van die Koragiete. Die Here word aangekla van doofheid en blindheid om Israel se klag te hoor of sy nood raak te sien, en dit deur die bevoorregte volk wat eintlik die Here se dienaar en boodskapper tussen die heidense volke behoort te wees. In Eks 2:24-25 is reeds vertel dat die Here Israel se nood in hulle 400 jarige verblyf in Egipte gesien het en hulle sugte en gekreun gehoor het. Hier sê die Here: Israel sien baie dinge maar slaan nie daarop ag nie, sy ore is oop maar hy luister/verstaan nie; Israel is vir die Here ‘n blinde dienaar en ‘n dowe boodskapper wat nie hulle hoë roeping as dienaars volbring nie (in verse 18-12 word doof 2x en blind 4x gebruik). Na hulle verlossing met die deurtog deur die Rietsee het die Israeliete gesien hoe kragtig die Here teen Egipte opgetree het en het hulle die Here en sy dienskneg Moses geglo (Eks 14:30-31). Maar Israel in ballingskap onder Babel is nog blind en doof vir die woord van die Here soos Hy in Jes 6:9-10 voor die ballingkap voorspel het. Hulle blindheid en doofheid gaan voort deur die boek Jesaja tot in 65:11-12 vir dié wat van die Here afvallig geword het, teenoor die klein deeltjie van Israel, die oorblyfsel (Jes 10:20-23) wat sy dienaars gebly het, soos die 7,000 in Elia se tyd, wat selfs deur die drie jaar droogte, nie die beeld van Baäl, die god van die natuurkragte, aanbid het nie (1 Kon 19:18; Hosea 2:4,7).

42:21 Nadat die Here self aan die woord was in 42:18-20, word hier oor die Here  gepraat. Vir Israel was daar baie te hoor. Hulle was bevoorreg om die onderwysing (torah – hier vir die wet en die profete van die OT) van die Here te ontvang. Daarin is die wil van die Here en sy doel met Israel duidelik uitgespel (1983: Hy laat sy woord roem en eer ontvang – letterlik: Hy maak torah groot en gee heerlikheid daaraan). Wat ‘n voorreg om daarin groot te word. Die rede waarom die Here dit vir Israel doen: Hy wil dit doen, en het vreugde daarin, ter wille van sy geregtigheid (tsedaka). Hy skenk alles waarop Hy aan Israel die reg gegee het volgens sy verbond (42:6), maar Hy wil hê hulle moet sy dienaars wees, wat sy geregtigheid na die nasies uitdra sodat daar geregtigheid op aarde sal wees.

42:22-23 Nieteenstaande die heerlike openbaring van die Here, wat Israel kon gelukkig maak, sug hulle nou in die ballingskap. Hulle is ellendig, verward, en hulle ly. Die digter benadruk hulle lyding in hiperboliese taal, soos Israel self hulle lyding aan die Here beskryf, erger as wat dit is – asof niemand aandag aan hulle gee nie.

42:24 As hulle sou vra waarom hulle so ly, is daar net een antwoord: dit kom van  die Here, wat Israel straf oor hulle eiewilligheid en ongehoorsaamheid. Hulle moet erken: hulle wou nie op sy paaie loop nie (vgl. bv. sy uitnodiging en waarskuwing in Jes 1:18-20 wat hulle ontvang het nog voor enige van die ballingskappe), en hulle wou nie luister na sy onderwysing (torah) wat die Here vir hulle in sy wet en deur die profete gegee het nie.

42:25 Daarom het die Here hulle sy brandende toorn laat voel en vir hulle krygsgeweld en ballingskap laat beleef. Die vlamme was rondom hulle soos dit die Babiloniërs gebrand het, en dit het tot by hulle gekom sodat die volk Israel te gronde gegaan het, maar hulle was so blind en doof dat hulle dit nie ter harte wou neem nie, en hulle wou die betekenis daarvan nie verstaan nie – nie voor die ballingskap nie, en  ook nie tydens die ballingskap nie. Daarom het die Here hulle oorgegee aan hulle blindheid en doofheid (Jes 6:10).

Skrywer:   Prof Francois Malan