Jesaja – Nog meer ‘wegneem’ (3:13-4:1) – Francois Malan

3:13-14 Die tema van sosiale verlies en ontwrigting word voortgesit in vier klein digterlike eenhede: Die eerste in 3:13-15 gebruik die formele taal van die hofsaal, soos 1:18. Die Here bring ‘n klag teen Juda, veral teen sy leiers wat in 3:2-3 genoem is. Die digter sien dat die ontwrigting van die samelewing nie in die eerste plek die werk van die gewone mense is nie, maar van opinievormers, wat daarop uit is om hulleself te bevoordeel ten koste van hulle medeburgers. Húlle word direk beskuldig: ‘Julle het die wingerde van die hulpeloses gestroop (verteer). Die volk word hier voorgestel as ‘n wingerd (soos in 5:1-7; vgl. Mt 21:33). Die gesagdraers word beskuldig van magsmisbruik teenoor die volk en veral teen die minderbevoorregtes wat veronreg en uitgebuit word (vgl. 1:13,17; 10:1 se weeskinders en weduwees. ‘Wat julle van die hulpelose armes geroof het lê in julle huise’)) – uit hartelose skraapsug.

 

3:15 In dié vers met twee reëls wat van twee kante dieselfde saak bekyk, staan ‘my volk’ in die eerste reël en ‘die armes’ in die tweede. Hier word die armes ‘my volk’ genoem om God se besondere sorg vir die armes te onderstreep. Die Here van die leërskare is die advokaat vir die armes teen die leierskorps. Die verdrukking word genoem ‘vertrapping’ (soos druiwe getrap word om hulle sap uit te druk) en die verdukking word ook beskryf as ‘maal’ (soos koring gemaal word om meel te kry). Dit word met geweld geroof, maar ook deur ekonomiese prosesse het hulle die wingerde en besittings van die armes verpand en van hulle weggeneem vir hulleself. Die ekonomiese verdrukking van die 8e eeu v.C. was berug (vgl. Amos 4:1). Spreuke 22:22-23 waarsku dat die onreg teen hulpeloses jou lewe sal kos. ‘Julle vertrap my volk en maal die gesigte van die armes, sê die Here van die leërskare, my (Jesaja se) God.’ – julle doen dit aan die eiendom van die Here van die leërskare.

 

3:16 Die vonnis word teen die tweede groep gevel. Die eerste was teen die leierskorp; die tweede is die dogters van Sion 3:16-4:1. Die aanklag teen hulle is dat hulle hoogmoedig is, kop in die lug rondloop (letterlik: met uitgerekte nekke – skalks kyk of ander hulle elegansie raaksien), ogies maak (begeerlik rondkyk om te verlei), trippel (aanstellerig stap), hulle enkelringe laat klingel (om aandag te trek). Dit gaan om die vooraanstaande vroue, wat waarskynlik uithang om die aandag op hulle te verstig tydens ‘n fees in Jerusalem (vgl. Amos 4:1 se tipering van Samaria se voorste vroue as ‘koeie van Basan’, die blinkvet koeie van die vlakte Oos van die Jordaan). Dit, teenoor die Here se soeke, volgens die hele gesig van Jesaja, dat sy mense in nederigheid en sagmoedigheid sal lewe.

 

3:17 Die digter het die skaamtelose weelde in v16 beskryf om in v17 die bom te los van die skielike vernietigende omkeer daarvan. Spr 16:5 sê: Die Here het ‘n afsku van ‘n verwaande mens. Die trotse inwoners van Jerusalem sal vernederd kaal geskeer, in ballingkap weggelei word, deur die beskikking van die Here.

 

3:18-23 Die derde digterlike eenheid in hoofstuk 3 is ‘n inventaris van 21 voorwerpe om ‘n totale beeld te gee van die vroue se weeldesug en korrupsie. Drie sake is van belang:

  1. Die Hére gaan optree (die Almagtige Here van die leërskare van verse 1 en 15).
  2. Die Here gaan ‘wegneem,’ soos vers 1 gesê het.

3 Die skielike verandering sal geskied op ‘die dag,’ wat in 2:12,17,20 genoem is, ‘n dag van oordeel, wat die Here bepaal het, en wat niemand kan ontwyk nie.

Dit is asof die digter die klerekaste van die modieuse vroue in die stad deursoek het. Daar is nie werkwoorde in die gedeelte nie, slegs items wat elkeen die oopvlek van die stad se selfbevrediging verskerp en wat die vernietiging van die stad se infrastruktuur meebring. Wat kosbaar was, word nou ‘n bedreiging, ‘n aanklag op die klagstaat van die Here.

 

3:24 Die vierde digterlike uitspraak (3:24-4:1) begin hier sonder ‘n werkwoord. Jerusalem se status verander skielik sonder dat iemand of iets genoem word, selfs nie die Here nie. Vyf maal word ‘in plaas van’ gebruik om die teendeel, die verlies, ontbering en vernedering aan te dui wat deur die Here se ‘wegneem’ veroorsaak word (vv1,12).

In plaas van reukwater – stank

In plaas van ‘n gordel – ‘n tou

In plaas van gekrulde hare – ‘n kaalkop

In plaas van ‘n fyn kledingstuk – ‘n harige roukleed (van sak)

In plaas van skoonheid – ‘n slawe brandmerk.

Die modeskou verander in sy teendeel, die spoggerige vrou is ‘n stinkende gebrandmerkte geboeide slaaf in sak geklee (treurende) en kaalkop geskeer (teken van rou en skande, Lev 215; Deutr 14:1; Miga 1:16). Dit verbeeld die uiterste armoede, gebrek en skande van die krygsgevangenes.

 

3:25 Die lot wat die brawe soldatemans van dié vroue word in twee sinsnedes beskryf: vir jou mans en sterk helde: swaard – oorlog – dood.

 

3:26 Eers die vroue (24), toe die mans (25), en nou die stad (26): die stadspoorte van Ps 24:1-7 wat sterk en trots met vreugde opgehef word vir die koms van die Here, sit nou gestroop van mense en skoonheid, sit op die grond – ‘n beeld van ‘n verslae en verslane stad wat terugdink en rou oor die mense wat daagliks vrolik daardeur beweeg het en vir hof- en raadsittings daar vergader het. Die stad is so kwesbaar soos die vroue, en so blootgestel soos die mans, aan die barbarisme van die soldate. Die eerste sin verwys na die stadspoorte die tweede na die hele stad.

 

4:1 Die oorlog het die dood van die meeste mans gekos. Dit is deel van die Here se ‘wegneem.’ Die getalleverhouding tussen die oorblywende vroue en mans is sewe vroue vir een man (daarom moes vroue en kinders die leiding neem; 3:12). Wat in 3:4,12 ‘n openbare krisis was, is nou ook ‘n gesinskrisis. In die ou patriargale stelsel behoort ‘n vrou aan haar pa voor haar huwelik, en aan haar man daarna. Ongetroude vroue was blootgestel aan geweld, ontbering en smaad sonder ‘n man om vir hulle kos en klere en beskerming en eer en stabiliteit sorg. Aangesien daar nie genoeg mans is om vir die vrouens se kos en klere te sorg nie, sal die vroue self vir hulle kos en klere sorg. Dit verminder die las op die mans wat die oorlog oorleef het. Vir hulle fisiese beskerming en van hulle eer is hulle bereid om enige man se eiendom te word, so groot het die stad en land se nood geword, want die Here het alles van vroeër ‘weggeneem.’

Aan die einde van dié skrikwekkende fisiese, gemeenskaps- en persoonlike scenario staan die leser midde-in die ruïnes na die oorlog. In Jesaja van die 8e eeu v.C. verwys dit na die verwoesting wat die Assiriërs gesaai het. In die lig van die hele boek Jesaja teen Juda en Jerusalem slaan die verwoesting op die werk van Babilon in die 6e eeu v.C. Omdat die Here ‘wegneem/verwyder’ (3:1,18) raak dit elkeen wat meen dat hy/sy outonoom selfgenoegsaam is, net vir hom/haarself lewe sonder om die verval en nood van die samelewing om hom/haar raak te sien.

Skrywer:  Prof Francois Malan