Jesus die Goeie Herder (10:11-18)

image_pdfimage_print

Jesus die Goeie Herder (10:11-18) – Francois Malan

10:11  ‘Ek is die goeie herder.’ Weer die ‘Ek is’ waarmee Hy Homself aan Moses geopenbaar het. Die herder is goed deurdat Hy sy lewe vir die skape ‘op die spel plaas’ (die letterlike betekenis van tithemi) – wat die huurling nie doen nie. Maar Jesus doen dit tot die uiterste toe deur sy fisiese lewe (psuche) vrywillig vir hulle, sy skape, ‘af te lê.’ 

10:12-13 Die huurling is nie bereid om sy lewe te waag vir die skape nie, wat nog te sê aflê vir hulle. Hy is nie die eienaar van die skape nie, gee nie vir hulle om nie, verdedig hulle nie. Sy lewe en sy inkomste is vir hom belangriker as die skape wat aan hom toevertrou  is. Daarom vlug hy weg as daar ‘n wolf kom. Hy is nie ‘n ware ‘wagter’ van die skape nie. Die huurling se optrede weerspieël die godsdienstige leiers se houding, wat net vir hulle eie voordeel werk, sonder liefde of besorgdheid oor die volk (7:49 ‘die vervloekte menigte’). Die wolf simboliseer die optrede van die Satan wat op allerlei maniere en deur verskillende mense die volgelinge van Jesus probeer aanval.(vgl. die wolf in Mt 7:15; Mt 10:16,17; Hand 20:29).

 

10:14-15 Jesus herhaal v11 se uitspraak: ‘Ek is die goeie herder…Ek lê my lewe af vir die skape. Tussenin word die uitspraak van v11 verder verduidelik met ‘Ek ken my eie en my eie ken My, soos die Vader My ken, en Ek die Vader ken.’ Jesus, die Seun van God, self God, het mens geword en onder ons kom woon (1:1,14). Die wedersydse ‘kennis’ van die Herder en sy skape dui op ‘n intieme verhouding. Dit weerspieël die gemeenskap van liefde tussen die Vader en sy Seun.

            [Vir die Grieke is ‘ken’ om die aard van iets te ken, vertroud met sy eienskappe, daarom is kennis van God vir hulle nadenke oor God, en ‘woord’ (logos) spel vir hulle ‘begrip’. Die Hebreeuse idee van ‘ken’ is om iets of iemand te beleef, om God te ken beteken om in ‘n verhouding met God te tree (vgl. bv. Amos 3:1-3 Ek het net vir julle uitgekies (Hebreeus jada‘ ‘geken, gesorg’) uit al die volke van die aarde, daarom sal Ek julle straf (Hebreeus: paqad  ‘tot verantwoording roep’) oor al julle sondes. Sal twee saamloop as hulle dit nie afgespreek  het nie (Hebreeus no‘ad  ‘jouself laat ken, ontmoet’). Johannes beklemtoon ‘n eenheid tussen die gelowige en God, wat met God se liefde vir die wêreld begin (3:16) en die skepsel se antwoord daarop met liefde deur Christus; in Hom alleen is God en mens een; dié mens wat in Christus glo word deel van die ewige lewe, opgeneem in die intieme huisgesin van God, Jn 1:12 ].

            Vers 11 se ‘goeie herder’ word ‘Ek lê my lewe af vir die skape.’ Daar is ‘n innige verhouding tussen Jesus en sy volgelinge. Hy bly aan hulle getrou tot die dood. Die Vader is ook betrokke in sy selfoorgawe tot in die dood as God se offer vir die sonde van die wêreld. Dit is die wil van sy Vader wat sy enigste Seun gegee het vir die verlossing van die wêreld.

 

10:16   Soos die beeld van die skaapkraal, met verskillende troppe wat daar oornag, verwys Jesus hier na skape wat nie aan sy Israel-kudde behoort nie (4:21 die verlossing kom wel uit die Jode). Die Samaritane het Hom reeds die Verlosser van die wêreld genoem  (4:42); Johannes die Doper: die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (1:29); Johannes 3:16 praat van God se liefde vir die wêreld; 6:21 Ek gee my liggaam sodat die wêreld kan lewe; 11:52 Hy sou nie net vir die (Joodse) nasie sterwe nie, maar ook om die kinders van God wat oor die hele aarde versprei is, tot een volk bymekaar te bring).

            Dit is sý skape, sý eiendom, want die Vader het hulle aan Hom gegee (10:29; vgl. 6:37,39,44,65). Hy sal hulle self bymekaarmaak, lei en dra (die woord agoo het al drie die betekenisse)’ en hulle sal na my stem luister’ – sy skeppingswoord wat van mense kinders van God maak. Vir sy werk onder die nasies van die wêreld gebruik Hy sy dissipels (volgelinge), wat Hy uitstuur (20:21) in die wêreld.’

            ‘…en hulle sal een kudde wees met een herder.’ Die eenheid van die kerk word sterk in Johannes beklemtoon. Dit spruit uit die enkele offer van God vir ons sonde (10:15,17-18) en sy unieke verhouding met die Vader en die mens (10:14,15); die eenheid van die kerk weerspieël die liefdeseenheid tussen die Vader en die Seun (17:20-23). Aan die één Herder behoort één kudde. Die opdrag van die Herder aan sy kudde is: Soos Ek julle liefhet, moet julle ook mekaar liefhê (13:34). Daarom vertoon die liefdeseenheid van die gelowiges die beeld van God (Gen 1:27; Jn 17:20-23).

 

10:17 Om sy kudde bymekaar te maak en in een kraal saam te bring, is dit noodsaaklik dat Hy sy lewe vir hulle aflê. Dit word die derde keer genoem (vgl. v11,15), maar word hier aangevoer as die rede waarom die Vader die Seun liefhet. Hulle wedersydse liefde bestaan  van ewigheid af (17:24, maar die bedoeling is hier dat die Vader innig verbonde is aan die Seun wat die wil van die Vader doen, ook deur sy lewe af te lê. as die hoogste openbaring en daad van God se liefde.

            ‘…om dit weer op te neem.’ Sy dood is op sy opstanding gemik as die oorwinning oor die dood. Dit is die eerste verwysing na die opstanding in Johannes. So sal Hy sy goddelike heerskappy en die egtheid van sy Herdersamp bewys.

 

10:18 Dit is die wil van die Vader dat die Seun sy lewe aflê vir die mensdom. Die Seun het Hom in vryheid gehoorsaam. Daarom doen Hy dit op gesag van die Vader. Die liefde tussen die Vader en die Seun word gesien in die hulle liefdesdaad vir die wêreld. In liefde wil die Vader die wêreld red, en in liefde lê die Seun vrywillig sy lewe af in opdrag van die Vader.

              Die opstanding is die voltooiing van God se verlossingswerk wat Hy aan die Seun opgedra het. Dit is ook die verheerliking van die Seun (17:1,5,11). Deur sy opstanding bring Hy die nuwe lewe vir die mensdom. 

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...