1

Jesus die lig vir die wêreld (8:12-20)

Jesus die lig vir die wêreld (8:12-20) – Francois Malan

Die gesprek tydens die loofhuttefees, wat deur die verhaal van die owerspelige vrou onderbreek is, word hier voortgesit.

8:12 ‘Op ‘n ander keer…’ – letterlik: ‘Jesus het weer… (tydens dieselfde fees) – vir die mense gesê…’ Die Evangelieskrywer beskou Jesus as die mens se toegang tot God. Hy vervang die Paasfeesoffers vir die sonde as die Lam van God (1:29,36), sy liefdesoffer van Homself vervang die tempel as die deurgang na God (2:21; 4:21-24; 14:6), en Hy vervang die Loofhuttefees as God wat self in die gelowige kom woon deur die Heilige Gees (7:39; 14:20,23). Strome van lewende water vloei uit elkeen wat in Hom glo (7:38), soos die water uit die rots tydens die uittog uit Egipte, wat tydens die fees in herinnering geroep word deur water wat op die altaar uitgegooi word. Hy is ook die Lig vir die wêreld, soos die vuurkolom vir Israel se trek deur die nag, en die wolkkolom bedags om hulle te lei, as die teken van die magtige teenwoordigheid van die Here by hulle (Eks. 13:21-22; 40:34-38). Met die Loofhuttefees is die tempel  met groot lampe verlig en daar was heelnag kore en danse met fakkels tot eer van die Here, met die hoop op ‘n tweede eksodus wat deur God gelei word. Christus openbaar Homself as die teenwoordigheid van God self wat hulle lewe kom verlig (Ps 27:1), om hulle te lei in die nuwe uittog uit die duisternis van die sonde na God toe, om in sy teenwoordigheid en onder sy leiding te lewe (vgl. Jes. 60:19-22; Sag. 14:5b-7).

 

8:13 Jesus het in 5:31-39 na drie getuies verwys wat God aan die Jode verskaf het (Johannes die Doper, Jesus se werke, die Skrifte). Hier plaas Hy Hom egter bo die Wetsgrond, omdat sy woord die volle waarheid is en geen verdere getuies nodig het nie, want Hy kom van die Vader en gaan na die Vader terug – die Woord van God, self God (Jn 1:1). Die Fariseërs gaan egter nie op sy uitspraak in nie, maar opper ‘n formeel-regterlike beswaar.  Hulle hoor nie sy wonderlike uitnodiging om Hom te volg nie, en ervaar nie die magtige teenwoordigheid van die Here by hulle nie. Hulle is so verstok deur hulle wetsgebondenheid, dat hulle net verwys na Deutr. 19:15 se eis van twee of drie getuies, en Jesus as die Lig vir die wêreld verwerp. Sy getuienis is vir hulle waardeloos want Hy getuig oor Homself – dit impliseer vir hulle net selfbelang. Maar Hy en sy woord is juis in hulle belang. Die koms van Lig is egter vanself ‘n oordeel, ‘n beslissing, want die mense het die duisternis liewer gehad as die lig omdat hulle werke boos is (3:19-21).

 

8:14  Jesus se onverwagte antwoord is: As Ek oor Myself getuig is my getuienis waar! Want Ek weet waar Ek vandaan kom (sy oorsprong) en waarheen Ek gaan (sy bestemming), en sy teenstanders weet nie. Hy kom van God en gaan na God (13:3) en God is met Hom (8:16). Dit onderstreep die eenheid van Vader en Seun. Die selfgetuienis van Jesus is die openbaring van God, want Hy is die Woord van God (1:1).

 

8:15 Die Jode kon dit nie verstaan nie, want vir hulle geld net wat voor oë is (7:24), die uiterlik sigbare verskyning van Jesus in ‘n nederige gestalte. Sy goddelike ewige wese sien hulle nie raak nie. Die doel van Jesus se sending is egter nie om te oordeel nie (3:17), maar die oordeel is ‘n onafwendbare gevolg van sy koms en sy woord.

 

8:16 Soos sy getuienis oor Homself van die Vader kom (v14), so kom sy oordeel ook van die Vader af. As Jesus praat is daar  altyd ten minste twee getuies: die Vader en die Seun. Daarom is sy getuienis waar!  Dit openbaar die hart en denke van God.

 

8:17-18 Jesus verwys na ‘julle wet’ se voorskrif van twee getuies, Jesus noem dit twee persone. Hy en die Vader is twee persone met dieselfde getuienis: Ek, Ek is (soos Hy Hom aan Moses geopenbaar het) die een wat oor My getuig, en die Vader wat My gestuur het getuig oor My – as geregtelike getuies, maar ook as mede-getuies van die verkondiging van Jesus. Alle getuienis oor Jesus kom van die Vader en die Seun saam. 

 

8:19 ‘Waar is jou Vader?’ openbaar  weer ‘n misverstand onder die Jode, en van hulle minagting vir Jesus. Hulle wil die tweede getuie sien en sy getuienis hoor. Omdat hulle nie Jesus as die Gestuurde van die Vader kan herken nie, lei hulle af dat  hulle die sogenaamde Vader van Jesus nie ken nie en daarom nie sy getuienis kan aanvaar nie. In 5:37 het Jesus reeds gesê: ‘Sy stem het julle nog nooit gehoor nie en sy gestalte ook nie gesien nie’ – as iemand Hom van Jesus afsny, nie in Hom glo nie, sny hy homself ook van die Vader af (5:18). Waar is God? Daar waar Jesus is! Wie die Seun sien, sien die Vader (14:9). Daar is geen ander toegang tot God nie (14:6).

 

8:20 Ná Jesus se getuienis dat Hy deur die Vader gestuur is, en dat hulle nie die Vader ken nie, wou hulle Hom gryp oor sy ‘valse’ leer (7:28-30). In die tempel se voorhof van die vroue was daar  13 offerkiste vir die bydraes van die volk. Daar openbaar Jesus Homself aan die Fariseërs en aan die mans en vroue wat na Hom geluister het. Maar omdat sy uur nog nie gekom het nie, kon niemand iets aan Hom doen nie (soos in 7:30,44; 8:59; 10:39).

 

Skrywer: Prof Francois Malan