Jesus genees ‘n verlamde man

 

There are two ways to get enough: One is to accumulate more and more. The other is to desire less – G.K.Chesterton

 

Jesus genees ‘n verlamde man

Hierdie verhaal kry ons in Markus 2:1 – 12. Die mense hoor dat Jesus weer by die huis in Kapernaum was. Dit was waarskynlik Petrus se huis. Gasvryheid is ‘n basiese wet in die Ooste. Daarom stroom die mense na die huis – hulle wag nie eers totdah hulle uitgenooi word nie. Daar was nie meer plek vir ‘n muis nie. Dit beteken dat van die mense met werklike behoeftes nie naby Jesus kon kom sodat Hy hulle kon help nie.

 

Vier vriende kom met ‘n verlamde man daar aan. Weens die gedrang kon hulle nie naby Jesus kom nie. Hulle breek die dak regoor Jesus oop en laat die verlamde man op sy draagbaar afsak. Hulle vertrou dat Jesus hom sal help … en Hy doen dit. Hierdie wonderwerk gee aan Jesus die geleentheid om ‘n les oor vergifnis vir die mense te leer.

 

Dink aan die toneel. Toe Jesus opkyk sien Hy die vier mans met hulle verlamde vriend op die dak. Die huise het plat dakke gehad. Daar was gewoonlik ‘n buitetrap wat toegang tot die dak gegee het. Daar is sekere kenmerke van hierdie mense wat ons moet raaksien.

  • Hulle was diep bekommerd oor hulle verlamde vriend. Hulle sou alles in hulle vermoë doen om hom te help.
  • Hulle het geloof gehad in wat Jesus kon en sou doen.
  • Hulle het nie net daaroor gebid nie, maar iets daaromtrent gedoen. Hulle het nie toegelaat dat die moeilike omstandighede hulle ontmoedig nie. Saam werk hulle en doen iets anders. Jesus beloon hulle pogings. Hulle kon baie maklik gesê dat daar te veel mense was en dat dit hopeloos was om eers Jesus se aandag te trek. Nee, hulle doen iets.

 

Is ons so bekommerd oor ons vriende wat swaarkry? Glo ons dat Jesus hulle kan help? Staan op en doen iets daaromtrent.