Jesus het gesug

Do noble things, not dream them, all day long.”  Charles Kingsley

 

Jesus het gesug

Mense sug gereeld. Dit is dikwels as gevolg van frustrasie of ongeduld. In Markus 7 lees ons van Jesus wat ‘n doofstom man genees het. Ons lees dat Jesus sy vingers in die man se ore gesteek het en spoeg aan sy tong gesmeer het. Daarna het Hy na die hemel toe opgekyk, gesug en vir hom gesê:Effata! Dit beteken: Gaan oop! Die man is onmiddellik genees.

 

Hoekom het Jesus dan gesug. Dit kan tog nie wees omdat Hy gefrustreerd of ongeduldig of kwaad was nie. Hoekom was hierdie sug so betekenisvol dat Markus dit in sy evangelie ingesluit het? Daar is ‘n paar moontlikhede:

  1. Dit was ‘n sug van vergelyking

Ons sug as ons ‘n pragtige huis of tuin sien wat erg verwaarloos is. Jesus sug toe Hy die pragtige mens wat Hy gemaak het, nou so verwaarloos sien. Sy sug was dieper want dit het op die twee sintuie vir kommunikasie gefokus – stem en hoor. Kommunikasie is een van die dinge wat die mense van ander skepsels onderskei het.

 

  1. ‘n Sug van oorwinning

Soos die gewigopteller sug en kreun as hy die swaar gewig optel, so sug Jesus weens die groot inspanning om die man te genees. Jesus was nie net besig om die man se fisiese probleme te genees nie, maar Hy was ook besig om die man van sy sondes te verlos. Dit vereis ‘n grootse poging en het Hom gedreineer.

 

  1. ‘n Sug van bekommernis

Jesus besef sodra die man kan hoor en praat sal sy ore en lippe begin sonde doen. Hy sien dat groter versoekings nou hierdie man se voorland is. Hy is bekommerd hieroor en daarom sug Hy.

 

  1. ‘n Sug van deernis

Toe God die vernietiging van hierdie man se sintuie sien, sug Hy uit deernis. Hy het ons lyding op Hom geneem, ons siektes het Hy gedra (Matteus 8:17). Jesus het hierdie dinge diep aangevoel.

 

Hoe wonderlik om ‘n Verlosser te hê wat vir al ons beproewings omgee. Ek kan al my sugte na Hom toe bring.