Johannes die Doper en Elia – Hermie van Zyl

Vraag: Zanke vra:

In Matteus 11:13 word gesê: “Al die profete en die wet het tot op Johannes geprofeteer, en as julle dit wil aanvaar: Johannes is die Elia wat sou kom.”

En in Matteus 17:11 staan daar: “maar Ek sê vir julle Elia het al gekom, maar hulle het hom nie herken nie en met hom gemaak net wat hulle wou.” En vers 13: “Toe het die dissipels verstaan dat Hy (Jesus) met hulle van Johannes die Doper gepraat het.”

Maar dan staan daar in Johannes 1:21 dat Johannes die Doper van homself gesê het dat hy nie Elia is nie.

So, ek wil graag beter verstaan: Was Johannes die Doper Elia of het hy net dieselfde eienskappe gehad en gekom “in dieselfde gees en krag as Elia” (Lukas 1:17)?

Antwoord

Prof Hermie van  Zyl antwoord:

Daar is ’n duidelike tendens in die Evangelies wat Johannes die Doper verbind met Ou-Testamentiese tradisies. So vind ons in al vier Evangelies die gedagte dat die Doper verbind word met Jesaja 40:3-5. Hierdie teks word in Matteus 3:3, Markus 1:3, Lukas 3:4 en Johannes 1:23 aangehaal. Dit ondersteun die gedagte dat die Doper gekom het om die weg van die Here (= Jesus) voor te berei. Die Jesaja-teks vertel dat die Jode sal terugkeer uit die Babiloniese ballingskap na Palestina (6e eeu vC), en dat ’n grootpad deur die woestyn gereed gemaak moet word hiervoor. Die Here sal vir sy volk die pad huis toe gelyk maak om verlossing vir hulle te bewerkstellig. Hierdie gedagte word nou deur die Evangelies toegepas op die koms van die Verlosser, Jesus Christus, wat sy volk van hulle sondes sal verlos, en die Doper is die een wat die pad vir Jesus reguit maak.

’n Ander Ou-Testamentiese tradisie waarby die Evangelies aansluit, is die gedagte dat die profeet Elia die wegbereider vir die Here se groot dag van verlossing sal wees. In die eeue voor die Christelike era, en ook kort daarna, het die Jode verwag dat Elia sou kom om die dag van die Here in te lui, ’n verwagting wat waarskynlik sy oorsprong het in die vermoede dat Elia nooit gesterf het nie, maar direk in die hemel opgeneem is (vgl 2 Konings 2). Die konsep dat Elia weer sou kom om die dag van die Here aan te kondig en voor te berei, word in ’n hele paar voor-Christelike, buite-Bybelse Joodse geskrifte gevind, asook in die Bybelboek Maleagi 3:1 en 4:5. Die Evangelies van Matteus, Markus en Lukas sluit by hierdie tradisie aan, maar pas dit toe op die optrede van Johannes die Doper as die wegbereider van die Here Jesus Christus. Met ander woorde, die Doper is niemand anders nie as Elia wat sou kom (vgl Matteus 11:13-14; 17:9-13; Markus 9:11-13; Lukas 1:17).

Die interessante is egter dat die Johannesevangelie nie die opvatting van die eerste drie Evangelies omtrent die identifisering van die Doper met Elia, huldig nie. Trouens, die Doper self ontken in soveel woorde dat hy Elia is (Johannes 1:21). Waarom hierdie verskil in siening tussen die Johannesevangelie en die ander Evangelies omtrent die identifisering van die Doper met Elia? Verskeie oplossings is al aan die hand gedoen vir hierdie diskrepansie, waarvan ek ’n paar noem, en dan afsluit met die verklaring wat ek dink die mees waarskynlike is.

Eerstens, daar is voorgestel dat die Doper, wanneer hy ontken dat hy Elia is, bedoel dat hy nie in die fisiese en persoonlike sin van die woord Elia is nie. Om dit pront te stel, hy is nie Elia wat herleef het nie; hy is nie die reïnkarnasie van Elia nie. Die konsep van die herlewing van ’n Ou-Testamentiese figuur is nie so vergesog nie, want Lukas 9:7-8 berig byvoorbeeld dat daar mense was wat sulke “herlewingsgedagtes” oor Jesus gekoester het. Hulle het geglo Hy is moontlik Johannes die Doper wat uit die dood opgewek is, of Elia wat verskyn het, of een van die profete uit die ou tyd wat opgestaan het. Die Doper wil dus met sy ontkenning net alle twyfel uit die weg ruim: hy is nie Elia wat herlewe het nie. Hierdie oplossing impliseer dat daar nie regtig ’n verskil tussen die eerste drie Evangelies en die Johannesevangelie is nie. By eersgenoemdes is dit Jesus en die Evangeliste wat die verband lê tussen die Doper en Elia, nie die Doper self nie. Hierdie Evangelies bedoel dit ook nie letterlik nie, maar metafories, soos Lukas 1:17 suggereer – dat die Doper in die gees en krag van Elia opgetree het. Die Johannesevangelie lê dus eintlik net die klem daarop dat dit nie die Doper self is wat hierdie verband tussen hom en Elia gelê het nie. En verder, dat hy alle misverstand uit die weg wou ruim: Hy is nie dieselfde Elia van die Ou Testament wat fisies herleef het nie.

Hoewel daar waarheidsmomente in hierdie oplossing is (bv dat die Doper nie ’n soort reïnkarnasie van Elia is nie), is dit in terme van die Johannesevangelie se samestelling en eie oogmerke nog nie die volledige oplossing nie.

Tweedens, daar is aan die hand gedoen dat die Johannesevangelie in die tyd toe dit tot stand gekom het ’n gedagte wou afwys wat by ’n Johannes die Doper-splintergroep (= aanhangers van die Doper lank nadat hy nie meer daar was nie) voorgekom het. Hierdie groep sou dan die Doper as Elia gepropageer het omdat hulle Elia as ’n messiaanse figuur voorgehou het. By implikasie sou die Doper dan die eintlike messias gewees het en nie Jesus nie. Daar heers egter onsekerheid by geleerdes of daar messiaanse verwagtings rondom Elia was in die tyd toe die Johannesevangelie geskryf is, en verder is dit ook nie duidelik of die splintergroep aan Johannes die Doper as Elia gedink het nie. Hierdie oplossing het dus nie baie veld gewen nie.

Derdens, die oplossing wat myns insiens die meeste gewig dra, is die gedagte dat in die Johannesevangelie die rol van Elia gereserveer word vir Jesus, nie vir die Doper nie. Enige identifikasie tussen die Doper en Elia word dus deur die Johannesevangelie vermy. Vandaar die eksplisiete ontkenning van die Doper – hy is nie Elia nie. Die Doper is hoogstens iemand wat getuig omtrent Jesus, ’n “stem roepende in die woestyn” wat die pad van die Here reguit maak (Johannes 1:17). Nog meer, Jesus is volgens die Johannesevangelie alles wat die Doper omtrent homself ontken het: die Messias, Elia en die profeet (Johannes 1:19-21).

Met betrekking tot Elia het verskeie geleerdes gewys op die ooreenkomste tussen Elia en Jesus in die Johannesevangelie, wat die gedagte versterk dat die Vierde Evangelie Jesus as die vervulling van alle Joodse verwagtinge wou teken, insluitende die verwagting dat Elia in die eindtyd sou terugkeer. Dit word egter nie in soveel woorde verkondig nie, maar vir die lesers wat geskool was in die Ou Testament sou die ooreenkomste tussen Elia en Jesus in die Johannesevangelie opvallend gewees het. Byvoorbeeld, die temas van lewe en dood is prominent in die Ou-Testamentiese tekste wat oor Elia handel. Elia is die verteenwoordiger van die lewende en ware God wat oor lewe en dood beskik, en oor sy skepping regeer. Geen wonder nie dat die skrywer van die Johannesevangelie juis hierdie temas in die lewe van Jesus prominent plaas. Baie geleerdes wys byvoorbeeld op die ooreenkomste tussen 1 Konings 17:17-24 (die opwekking van die weduwee van Sarfat se seun deur Elia) en Johannes 4:46-54 (die genesing/opwekking van die regeringsamptenaar se seun deur Jesus) asook Johannes 11 (die opwekking van Lasarus), en beweer selfs dat die Johannesevangelie sy weergawes van hierdie gebeure gemodelleer het op die 1 Konings-gebeure. En so is daar ook die ooreenkomste tussen Elia se gebed tydens die Baäl-episode (1 Konings 18:36-37) en die begin van Jesus se gebed in Johannes 17:1-5. Wat hier uitstaan is die verheerliking van die enigste en ware God, beide deur Elia en Jesus. Talle ander ooreenkomste kan nog uitgewys word, maar bostaande is voldoende om die gedagte tuis te bring dat die skrywer van die Vierde Evangelie op ’n subtiele manier die band tussen Elia en Jesus gelê het, om so te wys dat Jesus, en nie die Doper nie, die eintlike Elia is wat sou kom.

Om saam te vat: Is daar ’n teenstrydigheid tussen die eerste drie Evangelies en die Johannesevangelie omtrent Johannes die Doper en Elia? Gesien vanuit bostaande uiteensetting moet ons sê, nee, dis net oënskynlik so. ’n Mens moet eerder oog kry vir die spesifieke oogmerke van elke Evangelie, dan word die sogenaamde teenstrydighede nie strydpunte nie maar maniere om die unieke boodskap van elke Evangelie te ontdek. So gesien wou die eerste drie Evangelies aansluit by die ooreenkomste tussen die Doper en Elia, waardeur veral die oproep tot bekering beklemtoon is. So is die pad voorberei vir die koms van die Messias, Jesus van Nasaret. Die Johannesevangelie sluit ook by hierdie voorbereidende werk van die Doper aan (“maak die pad van die Here reguit”), maar doen dit nie met ’n beroep op Elia nie omdat hy laasgenoemde rol vir Jesus reserveer. Jesus is die nuwe Elia, nie die Doper nie.

Skrwer: Prof Hermie van Zyl