Johannes die doper – Hermie van Zyl

Jan vra

Ek het die artikels oor Johannes die Doper wat in Bybelkennis verskyn, gelees, maar die vraag wat ek oor hom het, het te make met sy persoon. Hier kom ‘n man te voorskyn: hy dra ‘n kleed van kameelhare met ‘n leergordel om sy heupe en hy eet sprinkane en wilde heuning. Met so ‘n kleredrag en dieet, asook sy uitsprake teen die Fariseërs en Sadduseërs, naamlik dat hulle ‘n “addergeslag” is, lyk hy vir my na ‘n skrikaanjaende wese. Maar nogtans stroom die mense na hom om gedoop te word. Nou wonder ek wat was die sukses van sy bediening? Sy voorkoms of dalk sy woorde? En wat het hierdie woorde: “Bekeer julle want die koninkryk van die hemel het naby gekom” vir die Jode beteken?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Ons vraagsteller vra inderdaad relevante, maar ook moeilike vrae. Want om hierdie vrae na behore te antwoord, moet mens jouself probeer verplaas na ‘n totaal ander wêreld as waaraan ons vandag gewoond is. Vra jouself af: As ‘n figuur soos Johannes die Doper vandag in jou omgewing opgetree het, sou hy dieselfde impak gehad het as destyds? Of sou die mense eerder meewarig die kop geskud het en die man afgemaak het as van lotjie getik, as ‘n godsdienstige dweper of opsweper wat probeer aandag trek? Maar die blote feit dat die mense destyds na hom gestroom het, wys dat hulle hom ernstig geneem het. En dat dit nie net ‘n sekere deel van die bevolking was wat miskien maklik mislei kon word nie, word bevestig deur die feit dat mense uit verskillende stande van die samelewing – gewone mense, tollenaars, soldate (Luk 4:7-14), selfs godsdienstige leiers (Fariseërs en Sadduseërs, Matt 3:7) – beïndruk was met hom, sy raad gesoek het en hulle deur hom laat doop het. Ook Herodes Antipas, viervors oor Galilea en Perea, was lugtig vir hom (Mark 6:20). Dis duidelik dat die mense hom glad nie as ‘n grap beskou het nie. Inteendeel, hulle het hom hoog geëer.

‘n Verdere rede waarom dit moeilik is om die vraag te beantwoord, is omdat ons slegs die Evangelies se interpretasies van die Doper se optrede het, hoewel Josefus, Joodse geskiedskrywer, in breë trekke saamstem met die Evangelies se beskrywing van die Doper. Volgens Josefus het Herodes Johannes die Doper laat teregstel omdat Herodes ‘n politieke opstand gevrees het. (Johannes se gewildheid het Herodes laat vrees dat die mense enigiets sou doen waartoe Johannes hulle oproep, insluitend opstand.) Hierdie siening hoef nie teenoor die Evangelies se weergawe te staan dat Herodes hom laat opsluit het weens Johannes se kritiek op Herodes se leefwyse nie – dat hy onwettig met sy broer se vrou getroud was (Matt 14:5). Herodes het Johannes waarskynlik laat arresteer op aandrang van sy vrou, Herodias (Mark 6:19). Die punt is: hierdie verskillende perspektiewe op die Doper se optrede laat mens net besef hoe aangewese mens is op ons bronne se weergawes van die Doper se lewe. Tog, historici is dit eens dat hierdie beskrywings vir ons ‘n wesenlik betroubare prentjie teken van die algemene klimaat van die tyd waarin die Doper opgetree het, wat mense se opvattings was, en watter verwagtinge daar deur die Doper se optredes en prediking gewek sou gewees het. Dit is hierdie sake wat ons nou gaan bespreek om te probeer agterkom waarom die mense so gaande was oor Johannes die Doper. Ons doen dit aan die hand van bepaalde hofies.

Die tyd waarin die Doper optree. Daar was ‘n breë opvatting onder die Jode in die tyd toe Johannes op die toneel verskyn het dat profesie in die formele Ou-Testamentiese (OT) sin van die woord al vir ‘n lang tyd opgehou het om te bestaan in Israel. En hier verskyn Johannes die Doper op die toneel, iemand so reg uit die OT profetiese tradisie (die kenmerke hiervan word onder verder bespreek). Dit is dus te verstane dat die mense onmiddellik die ene ore sou gewees vir wat Johannes sê en doen. Die mense wag al lank vir ‘n ware profeet om op te staan en hulle te vertel wat hulle te doen staan. Hulle is moeg vir die gewone onderrig van die geestelike leiers, wat hulle in ‘n groot mate koud gelaat het. Iets van hierdie gevoel blyk uit wat die skare opgemerk het omtrent Jesus, dat Hy leer soos ‘n man met gesag, en nie soos hulle skrifgeleerdes nie (Matt 7:28). Die mense het dieselfde gevoel oor Johannes die Doper gehad: Hier is ‘n man wat met Goddelike gesag optree. Kortom: die tyd was ryp vir iemand soos die Doper.

Die woestyn as plek van optrede van Johannes die Doper. Só belangrik is die plek van die Doper se optrede – die woestyn – dat al vier Evangelies dit vermeld (Matt 3:1; Mark 1:4; Luk 3:2; Joh 1:23). Met “woestyn” word bedoel die onbewoonde, onherbergsame gebied oos van Jerusalem (ook bekend as die woestyn van Judea), tot oorkant die Jordaan by Betanië (Joh 1:28), selfs so ver noord as Enon naby Salim (Joh 3:23). Hy het veral in die Jordaanvallei opgetree waar hy die mense maklik kon doop. Die plek van Johannes se optrede sou nie onopgemerk by mense verbygegaan het nie, want dis hier vanwaar hulle ‘n nuwe godsdienstige eksodus of uittog verwag het. Daarom is dit nie vreemd nie dat al die Evangelies juis die teks uit Jes 40:3-5 gebruik om Johannes se optrede vanuit die OT te legitimeer. Hierdie teks beklemtoon Johannes se rol as profeet wat die pad van die Here moet voorberei (“reguit maak”). Verder is die woestyn in die geskiedenis van Israel geassosieer met die ware profete wat gevlug het vir die wraak van konings, soos Elia (1 Kon 19:4). Die Doper kon die woestyn gebruik as ‘n afgeleë en relatief veilige plek om sy boodskap van bekering ongestoord te verkondig, weg van die wakende oog van die godsdienstige en politieke leiers. Hier kon hy die mense ook doop, wat in feite neergekom het op ‘n uitdaging van die gesag van die leiers.

Johannes se optrede in die woestyn bevat dus die konnotasie van ‘n nuwe eksodus, die finale tyd van redding, asook die prys wat ‘n ware profeet van God moet betaal vir sy roeping: uitsluiting van die gerief en statussimbole van die normale sosiale lewe. Al hierdie aspekte van Johannes se plek van optrede sou by die gewone bevolking ‘n snaar van herkenning geroer het en hulle op sy minste uitgedaag het om sy boodskap as ware profeet van God ernstig te neem. Trouens, dit word in soveel woorde gesê dat die mense Johannes as ‘n profeet beskou het, in so ‘n mate dat Herodes bang was om Johannes summier tereg te stel (Matt 14:5).

Die gedagte van ‘n nuwe eksodus word deur sommige verklaarders ook gekoppel aan die feit dat Johannes min of meer daar opgetree waar die Israeliete destyds die Jordaan oorgesteek het om die land Kanaän in besit te neem. Die uittog uit Egipte het gelei tot ‘n nuwe bestaan in Kanaän. Net so berei Johannes die Jode van sy tyd voor vir ‘n nuwe lewe onder die bewind van die komende Messias.

Johannes se kleredrag. Johannes het klere van kameelhaar gedra met ‘n leergordel om sy heupe (Matt 3:4). Hierdie kleredrag sou onmiddellik die assosiasie met die groot wildernisprofeet uit Israel se verlede, Elia, opgeroep het. Dié het ook so geklee gegaan (2 Kon 1:8; vgl Heb 11:37). Boonop was daar ook die verwagting dat Elia die voorloper van die Messias sou wees (Mal 4:5-6). Dat hierdie gedagte sterk geloop het onder die mense van Johannes se tyd word deur Jesus bevestig as Hy sê dat Johannes inderdaad Elia was wat sou kom (Matt 11:14-15; 17:11-13). Daarmee is die band gelê tussen Elia as voorloper en Jesus as Messias. Johannes het weliswaar ontken dat hy die Messias is, maar dis duidelik dat hy deur sy optrede groot verwagtinge wakker gemaak by die mense oor sy identiteit en oor wat hulle van hom te wagte kon wees (Luk 3:15-17). En sy kleredrag sou beslis bygedra het tot hierdie aura van verwagting rondom sy persoon en optrede.

Johannes se dieet. Johannes se totale dieet het uit sprinkane en veldheuning bestaan (Matt 3:4). Dit klop met wat ons uit ander bronne weet van vroom mense wat destyds in afsondering gewoon het – dat hulle van die veld af geleef het. Maar wat Matteus eintlik hiermee suggereer, is dat Johannes ‘n eenvoudige leefstyl gehad het; hy het in eenvoud en in volkome afhanklikheid van God geleef. Dis ‘n leefstyl wat ook herinner aan wat Jesus later onderrig het dat mens nie oor kos en klere bekommerd moet wees nie, omdat God sal sorg. ‘n Mens se hooffokus moet die koninkryk van God wees (Matt 6:25-34). En dis presies wat Johannes met sy kleredrag en dieet uitgeleef het – volkome vertroue in God, en ‘n leefstyl wat fokus op die die koms van God se koninkryk. Ook hierdie aspekte van sy bediening sou nie onopgemerk by mense verbygegaan het nie. Daar was iets outentiek omtrent Johannes wat hulle eerder sou aantrek as afstoot. Hier is ‘n man wat leef wat hy preek – in alle eenvoud en in volkome toewyding aan God; inderdaad, ‘n man van God.

Johannes se boodskap. Johannes se boodskap was eenvoudig: “Bekeer julle, want die koninkryk van God/die hemel het naby gekom” (Matt 3:2), of: “Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe” (Mark 1:4; Luk 3:3). Die essensie is: bekering en verlossing (lg deur Matteus uitgedruk as die koms van die koninkryk van God, en deur Markus en Lukas as sondevergifnis).

Wat sou hierdie boodskap vir die Jode van destyds ingehou het? Waarom bekering verkondig aan mense wat reeds tot die verbondsvolk behoort? Bekering is mos iets wat aan die heidene verkondig word. Maar dis presies die punt wat Johannes wou maak. Hy sluit aan by ‘n ou profetiese gedagte dat juis die mense wat beweer dat hulle God se volk is, moet terugkeer na God (bv Jes 31:6; 55:7; Jer 3:6-7,10,14,22; 8:5; Hos 12:7; 14:2-4; Joël 2:12-13). Die bekering wat Johannes preek, is nie maar net die daaglikse toewyding aan God nie, maar ‘n radikale omkeer: ‘n wegkeer van jou verkeerde weë (veral die dien van afgode) en ‘n toekeer tot God. Dít is wat Johannes van die Jode gevra het – ‘n eens-en-vir-altyd bekering, ‘n wegkeer van ‘n ou lewe na ‘n nuwe, iets wat die Jode gewoonlik geassosieer het met wat gebeur wanneer heidene hulle ou lewe laat staan en die lewende God begin aanbid en dien. Hiermee lê Johannes die godsdienstige verwording van sy tyd bloot, dat mense in vals sekerhede verval het deur staat te maak op die feit dat hulle kinders van Abraham is en daarom nie nodig het om hulle lewenswyse voortdurend daarmee in ooreenstemming te bring nie. Maar Johannes wys dit uit as ‘n misleidende en selfs gevaarlike sienswyse. Wat hulle nodig het, is ‘n radikale omkeer. Hulle moenie daarop roem dat hulle kinders van Abraham is nie, want as dit daarop aankom, kan God selfs van klippe kinders vir Abraham verwek (daar is ‘n interessante woordspeling in Aramees tussen “klippe” en “kinders”; die woorde klink baie dieselfde). God word nie beïndruk deur allerlei aansprake en belydenisse van mense nie; Hy stel slegs belang in die vrugte wat pas by daardie belydenis (Matt 3:7-10). Dis belangriker dat mense die bewyse lewer dat hulle kinders van Abraham is as dat hulle net op hulle afstamming roem. En dit vra radikale bekering.

Die doop van Johannes. As simbool van mense se radikale wegkeer van ‘n ou lewenswyse en terugkeer na God, het Johannes hulle gedoop. Dis dieselfde soort doop wat van heidene verwag is wanneer hulle uit die heidendom oorgekom het na die Jodedom, die sogenaamde proselietedoop. Laasgenoemde was ‘n radikale reinigingsproses waardeur die heidene hulle vorige lewenswyse afgesweer het ten gunste van die aanbidding van die lewende God. Met hierdie doop het Johannes eintlik geïmpliseer dat hy die Jode van sy tyd as geestelik dood beskou het; hulle is soos heidene wat nog nie die lewende God ken en dien nie. ‘n Ander beeld wat Johannes vir die geestelike leiers van sy tyd gebruik, bevestig hierdie radikale siening van hom. Hy noem hulle slange, letterlik: “addergeslag” of “kinders van adders” (Matt 3:7). Dis ‘n baie kras term, waardeur hy hulle eintlike karakter aantoon, dat hoewel hulle uiterlik vroom voorkom, hulle na regte kinders van die duiwel is, gedagtig daaraan dat die duiwel ook met die slang geassosieer is (vgl Op 20:2; Joh 8:39-47). Daar was verder ook die opvatting dat adders “moedermoordenaars” was, aangesien ‘n sekere soort adder in die geboorteproses hulle pad uit die ma oopgebyt en die ma in die proses gedood het. “Addergeslag” is dus ook ‘n beeld van uiterste morele verwording, daarom dat hulle ook die oordeel probeer ontvlug, net soos slange probeer vlug wanneer ‘n ploegland aan die brand gesteek word om dit voor te berei vir die saaiproses. Met hierdie sieninge was Johannes inderdaad geen lammetjie nie. Hy het seer sekerlik op baie tone getrap, mense kwaad en verontwaardig gelaat, maar terselfdertyd ook respek afgedwing, in so ‘n mate dat mense na hom gestroom het. Hulle het intuïtief aangevoel dat hy eg is en ‘n belangrike boodskap van God het.

Al bogenoemde dui daarop dat Johannes ‘n besondere oorgangsfiguur was tussen die ou verbond en die nuwe verbond. Hy was inderdaad die wegbereider vir die Messias, Jesus. Hy het die mense in eg OT profetiese tradisie opgeroep tot ‘n ware terugkeer na God, die aanvaarding van God se vergifnis, en om die koms van die koninkryk van God in Jesus met blydskap te omhels. En dat hulle in sy robuuste optrede presies dit raakgesien het, word gedemonstreer in die groot aanhang wat hy geniet het. Selfs lank nadat hy van die toneel verdwyn het, het hy nog dissipels gehad het wat sy nalatenskap voortgesit het (Hand 18:24-26; 19:1-7).

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl