JOHANNES DIE DOPER – ‘N NUWE TYD BREEK AAN EN DIE PAD WORD GELYKGEMAAK (5)

JOHANNES DIE DOPER – ‘N NUWE TYD BREEK AAN EN DIE PAD WORD GELYKGEMAAK (5) – Jan van der Watt

ii) Vir wie het Johannes gepreek?

Dit lyk of Johannes die sogenaamde geestelike leiers in Jerusalem, daar by die tempel, in sy visier gehad het.

 

  • In Mat 3:7 word die Fariseërs en Sadduseërs by name genoem as Johannes oor die oordeel van God praat. Hulle moenie dink die feit dat hulle as Jode gebore is (kinders van Abraham) dat dit hulle saak met die Here regmaak nie. Hulle moet soos kinders van God leef. Dit beklemtoon Lukas veral.
  • Baie mense het na Johannes toe gekom en is gedoop. Dit was baie gewone mense wat na Johannes gestroom het, maar ons het ook gesien dat die belangrikes daar opgedaag het. Johannes se kritiek en boodskap was egter veral teen die meer gesiene priesters, familiehoofde, Fariseërs en Sadduseërs en selfs ander belangrike mense in die samelewing gerig wat nie meer vir God geleef het nie, maar vir hulleself. Hulle het nagelaat om die basiese dinge wat God vra te doen, soos om vir die armes te sorg en hulle nie uit te buit nie.

    iii) Waarom het Johannes nou juis gedoop?

    Doop is nie net deur Christene gebruik nie. Doop was wat ons noem ‘n oorgangsrite. Mense wat onrein was, het hulle gewas met water (is gedoop) en dan was hulle rein. Hulle het dus oor die grens van onrein na rein gegaan. Sondaars is gedoop en het van sondaars oor die grens na vergeefde mense gegaan. Doop was dus die plek waar die oorgang van een toestand na ‘n ander “gemerk is in die openbaar”. As Johannes iemand doop gaan die persoon die grens oor van iemand wat sondig na iemand wat nie wil sondig nie, maar gehoorsaam aan God wil bly. As Jesus iemand doop, gaan daai persoon die grens oor van iemand wat nie aan Jesus behoort nie, na iemand wat aan Jesus behoort.

    Die Johannesevangelie maak ‘n addendum: Johannes moes doop sodat God vir hom kon wys wie regtig die Messias is. Lees maar Joh 1:33-34.

    iv) Hoe is Johannes dood?

    Johannes se kop is afgekap, omdat hy so eerlik en reguit met koning Herodes was. Hy het hom aangespreek oor sy onsedelikheid en die feit dat hy met sy broer se vrou getrou het. (Lees die interessante verhaal in Mk 6:17-29). As ons egter na die verhaal van Josefus oor Johannes kyk, dan was daar ‘n politieke rede waarom hy doodgemaak is, Herodes was bang dat al die mense wat na hom toe oorstap miskien soos ‘n revolusie teen die Romeine kan lyk. Daarom het hy hom uit die weg geruim.

    Die twee weergawes is nie presies dieselfde nie, maar hoef nie te bots nie. Beide kan waar wees. Die een gaan oor Johannes se politieke rol en die ander een oor sy morele rol.

     

    v) Wanneer het Jesus begin preek?

    Daar is twee moontlikhede wat altwee in die Nuwe Testament genoem word:

  • Jesus begin preek terwyl Johannes ook nog aan die preek is (Joh 3:22-23).
  • In die volgende artikel gaan ons kyk na Jesus se doop deur Johannes.

     

    Skrywer: Prof Jan van der Watt