Julle is sout vir die aarde

The doctrines of grace humble a man without degrading him and exalt a man without inflating him. —Charles Hodge

Julle is die sout vir die aarde

Ben Witherington het ‘n baie interessante artikel oor sout op sy blog geskryf. Ons leef in ‘n wêreld waar smaakmiddels oral beskikbaar is. Daarom sukkel ons om beeldspraak soos julle is die sout van die aarde te verstaan. Maar 2000 jaar gelede was sout een van die fondamente van die beskawing. Sonder sout kon kos nie bewaar of vervoer word nie. Romeinse soldate is soms met sout betaal. Ons kry vandag nog die gebruik van sout in sekere van ons idiome soos terug na die soutmyne. Ons besef nie werklik die waarde van sout in ‘n warm klimaat, soos Israel, sonder yskaste nie.

Party teoloë beweer dat sout nie kan verslaan nie. Die sout waarvan in Matteus 5:13 melding gemaak word, was van die Dooie See afkomstig en was vol onsuiwerhede. Hierdie sout het beslis verslaan.

Wat bedoel Jesus as Hy sê: Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan, hoe kry ‘n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi en die mense vertrap dit. Hierdie is ‘n wysheidsgesegde wat ons nie sonder meer kan ignoreer nie. Jesus se gesegde sê waarskynlik iets oor die rol van sy dissipels in die samelewing. Die taak van Christene is nie om in die kerkgebou te bly nie – nie om hulle aan die samelewing te onttrek nie; nie om op hulleself te fokus nie. Hulle moet die samelewing ten goede beïnvloed.

Ons kan nie in die samelewing gaan en iets daar uitdeel en dan weer onttrek en hulle net so in hulle vorige toestand los nie. Kom eerder langs hulle staan. Doen jy dit? Let op: Jesus sê nie dat party van sy volgelinge sout vir die aarde moet wees en ander iets anders nie. Nee, julle almal moet sout vir die aarde wees- almal. As jy dit nie doen nie, is jy nutteloos – Dit is niks meer werd nie.