Kan Christene God hoor praat?

 

People may not agree with our theology but they shouldn’t be able to argue with our lives. —John McGowan

 

Kan Christene God hoor praat?

Christene kan God hoor praat en sy leiding volg. Perry Noble noem vier maniere waarop dit moontlik is.

  1. God se woord

Die Bybel is ‘n lewende voorbeeld van God se boodskap aan ons. God wil met ons praat; God wil hê dat ons Hom reg hoor. God se woord is sy wil.  God het aan ons die Bybel as instrument gegee om Hom beter te ken en te verstaan; wie Hy is en wat sy planne vir ons is. Deur op die Bybel te fokus, spandeer ons minder tyd om te fokus op wat ons graag wil hê God moet sê. Die rede waarom baie van ons nie kan hoor as God praat nie, is omdat ons te besig is om self te praat. Dit is ‘n groot versoeking om vir God te vra om te sê wat ons graag wil hoor dat Hy moet sê. Ons moet eerder fokus op wat God reeds gesê het en hoe ons dit in ons lewens kan toepas. As jy God se stem wil hoor, maak jou Bybel oop.

 

  1. Die Heilige Gees

Die Heilige Gees woon in elke gelowige en dien as ons gewete. Die Heilige Gees praat met jou in situasies om jou te help om God se wil te ken en uit te leef.

 

  1. Deur medegelowiges

God het ons gemaak om deel van ‘n geloofsgemeenskap te wees. Hy gebruik hierdie gemeenskap om die waarheid met ons te praat. Meestal doen Hy dit sonder dat ons eers daarvan bewus is. As jy met ‘n vriend praat en Hy sê iets in ooreenstemming met die Skrif en wat ‘n situasie waarin jy verkeer, hanteer, is dit God wat met jou praat. Jy hoor God deur jou vriend praat.

 

  1. Prediking

Christene hoor God deur sy kerk praat. Dikwels praat God direk met ons tydens ‘n erediens. God praat met ons, sy kinders, deur sy kerk. Die kerk bestaan en groei reeds oor 2000 jaar.

 

Ons moet God toelaat om met ons en deur ons te praat. God glo in ons potensiaal. Jy het wat nodig is om God te hoor praat … en ja vir Hom te sê.