Kan die duiwel ons gedagtes lees? – Francois Malan

‘n Leser vra:

Waar in die Bybel staan dit dat die duiwel nie ons gedagtes kan lees nie.

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Dit staan nie in die Bybel nie. Inteendeel die naam duiwel (Grieks: diabolos) beteken uitmekaar gooi, teenmekaar ophits, te belaster of aan te kla. Die duiwel se strewe is om God en mens uitmekaar te laat gaan. Vir die doel gebruik hy alle moontlike middele en aanknopingspunte. So het die slang vir Eva en Adam verlei met die valse aanbod deur die vrug van die boom van kennis en kwaad vir hulle begeerlik voor te stel om daardeur kennis te kry om soos God te wees wat alles kan ken, met die versekering dat hulle nie sal sterf soos God gesê het nie (Gen 3:4-6). Jesus noem hom ‘n leuenaar en die vader van die leuen, van die begin af is hy ‘n moordenaar wat verantwoordelik is daarvoor dat die dood in die wêreld ingekom het (Joh 8:44). In die Onse Vader leer Jesus ons bid: laat ons nie in die versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose (Matt 6:13). Jesus praat van ‘n bose gees en slegte geeste wat in ‘n mens woon (Matt 12:43-45). Vergelyk die bose geeste wat die Here uit die besete van Gadara verdryf het (Markus 5:8-9). Al die slegte/bose dinge wat in Mark 7:21-23 genoem word kom uit die mens se hart. Die hart is ‘n spreekwoord en beeld vir die mens se gedagtes en begeertes.

Maar Jesus het gekom om die duiwels uit te dryf (Matt 12:28). Die duiwel kan die mens wat in Jesus glo en op Hom vertrou nie meer by God aankla nie, want Jesus het reeds die straf en smet van al ons sonde op Hom geneem aan die kruis. Maar die duiwel probeer nog elke dag om ons weg te lei van God af. As ons by die Here skuil en vra dat Hy die bose gedagtes uit ons verwyder en vervang met sy liefdesgedagtes kan ons die versoekings van die duiwel oorwin. Jakobus 4:7-8 sê: Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug. Nader tot God en Hy sal tot julle nader.

Skrywer:  Prof Francois Malan