Kan die moderne kerk by die vroeë kerk leer?

The two most important days in your life is the day you are born and the day you find out why – Mark Twain

 

Kan die moderne kerk by die vroeë kerk leer?

Hoe het 120 Joodse volgelinge van Jesus die kerk in ‘n multi-etniese beweging met 33 miljoen volgelinge teen die jaar 350 verander? Rodney Stark (The Rise of Christianity) identifiseer veral drie dinge wat die vroeë kerk gedoen het. Dit is dinge wat die kerk vandag steeds met groot vrug kan doen.

  • Die vroeë kerk het die siekes en armes versorg

Aaansteeklike siektes in die eerste twee eeue nC het katastrofiese gevolge gehad. Marcus Aurelius, keiser van 161 – 180, het gesê: So many people died that cities and villages in Italy and in the provinces were abandoned and fell into ruin.” Dionysius, die Biskop van Aleksandrië,  vertel dat die geloofsgemeenskap die evangelie uitgeleef  het deur die siekes te verpleeg – ten spyte daarvan dat ons hier met hoogs aansteeklike siektes te doen gehad het. Dit het gebeur terwyl die heidene hulle siekes aan hulleself oorgelaat het – om die waarheid te sê hulle het hulle siekes in die straat uitgegooi nog voor hulle dood was. Het ons gemeentes ‘n strategie om die armes en siekes te versorg? Moet ons nie weer soos die vroeë kerk weer liefde op armes en siekes uitstort nie?

 

  • Die vroeë kerk het vrouens geëer en met waardigheid hanteer

In Atene is vrouens as kinders geklassifiseer – maak nie saak wat hulle ouderdom was nie. Mans kon van hulle vrouens skei bloot deur hulle uit die huis weg te jaag. In die Grieks-Romeinse wêreld is vroulike babas dikwels doodgemaak. Min gesinne het meer as een dogter gehad. Vroue reageer op die evangelie in groot getalle, want vir die eerste keer hoor hulle dat ook vroue na die beeld van God gemaak is en dat hulle gelyk aan die man was. Hulle was verbaas om te hoor dat mans hulle vrouens moes liefhê net soos Christus die kerk liefgehad het (Efesiërs 5:25). Hulle was verbaas dat hulle in leierskapsposisies gebruik kon word – soos Febe wat ‘n diaken was (Romeine 16:1 – 2). Het die kerk ‘n strategie in plek om die leierskapsvermoëns van vroue te ontgin?

 

  • Die vroeë kerk was ‘n multi-etniese, plaaslike beweging

Grieks-Romeinse stede was etnies divers. So byvoorbeeld was Antiogië uitgelê in twee primêre gedeeltes: een vir die Siriërs en een vir die Grieke. Hierdie gedeeltes was met ‘n muur van mekaar geskei. As gevolg van die etniese verskeidenheid was sosiale integrasie baie moeilik – geen wonder opstande het gereeld plaasgevind nie. Juis in Antiogië was Jesus se volgelinge vir die eerste keer Christene genoem (Handelinge 11:19 – 26). In Antiogië verander Jesus se kerk van ‘n homogene groep Jode na ‘n multi-etniese groep – Jode en nie-Jode. Dit was juis hierdie multi-etniese, plaaslike kerk in Antiogië wat die evangelie van Jesus Christus dwarsdeur die wêreld uitgedra het – nie die homogene kerk in Jerusalem nie. Dit was Antiogië se kerk wat Barnabas en Saulus afgesonder het en uitgestuur  het (Handelinge 13:1 – 3). Christus is ons vrede, Hy wat die twee, Jode en nie-Jode, een gemaak het. Deur sy liggaam te gee, het Hy die vyandskap afgebreek wat vroeër soos ‘n muur skeiding gemaak het … deur sy dood aan die kruis het Hy ‘n einde gemaak aan die vyandskap en die twee met God versoen en tot een liggaam verenig (Efesiërs 2:14 – 16). Dit is een van die oorheersende temas in Paulus se briewe: die evangelie breek grense af en skep nuwe mense in Christus wat leef vir die koninkryk van God en mekaar liefhet. Net 13% van alle gemeentes in die VSA is multi-etnies. Het ons ‘n plan om multi-etniese gemeentes tot stand te bring?

 

Het ons gemeentes wat die nuwe hemel en nuwe aarde  van Openbaring reeds hier op aarde weerspieël?