Karakter en vaardigheid

 

Above all, trust in the slow work of God, our loving vine-dresser – Pierre Teilhard de Chardin

Karakter en vaardigheid

Leierskap word op karakter en vaardigheid gebou. Charisma is opsioneel. Van die mees charismatiese mense van die vorige eeu was ook van die slegste: Hitler, Mao, Marx en Mussolini was almal charismaties.

Paulus skryf aan Timoteus: Net so moet diakens ook mense van goeie karakter wees … Vooraf moet ondersoek ingestel word na hulle geskiktheid, en as niemand beswaar teen hulle inbring nie, kan hulle as diakens dien (1 Timoteus 3:8 – 10). Die probleem is dat daar kerkleiers is met baie talent en charisma, maar  nie altyd die nodige karaktereienskappe het nie – hulle wortels is nie diep in die grond van God se woord geplant nie.

 

As jy karakter sonder vaardighede het, is jy ondoeltreffend. As jy vaardighede sonder karakter het, is jy ‘n bedreiging vir die kerk. Om jou vaardighede te verbeter moet jy lees. Die volwassenheid wat jy as kerkleier moet hê, het ook met karakter te doen. Volwassenheid van karakter het niks met ouderdom te doen nie. Ook nie met jou voorkoms en prestasies nie. Dit gaan onder meer oor gesindheid. Karakter is die manier waarop jy op die omstandighede van die lewe reageer; karakter is nie wat ander mense dink jy is nie, maar wat jy werklik is. Character is who you are in the dark (D. L. Moody). Karakter is wie jy is as niemand kyk nie – dit is die ware jy. God ken jou karakter.

Charisma beïndruk nie vir God nie. As dit jou beïndruk moet jy baie versigtig wees. Jou hart moet ‘n dieper karakter en meer vaardigheid verlang. Karakter en vaardigheid is die twee spore waarop leierskap hardloop.