Kinders en die Bybel – Hermie van Zyl

Rina vra:

Hoe leer mens jou kinders om die Bybel reg te verstaan? Is daar enige boeke of aanlyn- of aflaaibare dagstukke/Bybelstudie wat mens kan doen met hulle om bv die doop, paasfees, ens, reg te verstaan en die ware betekenis te begryp?

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die vraagsteller sê ongelukkig nie hoe oud die kinders is waaroor navraag gedoen word nie. Verder is dit ook nie heeltemal duidelik of gesoek word na hulpmiddels wat die teks/verhaal van die Bybel verstaanbaarder vir kinders maak en of dit eerder gaan oor leefstyl of leerstellige kwessies nie (daar word wel verwys na die doop, paasfees, ens). Ek kan dus net in die algemeen probeer leiding gee oor hoe mens jou kinders aan die Bybel en sy inhoud blootstel.

Eerstens is daar die sogenaamde Kinderbybels vir jonger kinders – óf om vir hulle voor te lees óf wat hulle self kan lees. Ek weet daar is baie vir en teen Kinderbybels te sê. As ‘n vertrekpunt dink ek moet mens uiteindelik jou kind by die “regte” Bybel self uitbring, maar daar mag tog ‘n vroeë stadium wees waar mens jou kind vertroud wil maak met die inhoud van die Bybel sonder om dit te moeilik te maak. Ek self het met die Kinderbybel grootgeword en het niks negatief – sover ek weet – daarvan oorgehou nie. Inteendeel, dit het juis by my ‘n nuuskierigheid gewek om met die “groot” Bybel (soos ek dit destyds genoem het) besig te raak. Ek onthou hoe ek dikwels dieselfde verhaal wat ek in die Kinderbybel raakgeloop het, ook in die Bybel gaan lees het om met mekaar te vergelyk. Maar vir lank het die Kinderbybel en die “groot” Bybel ‘n parallelle bestaan in my kinderlewe gehad. Geleidelik het die behoefte aan die Kinderbybel weliswaar verdwyn. Mens moet dus jou kind van kleins af bewus maak daarvan dat die Kinderbybel eintlik net ‘n tussenstadium is totdat hulle oud genoeg is om self die Bybel te hanteer. In jou kerk se eredienste, kategese/Sondagskool en by die huisgodsdiens word jou kind in elk geval voortdurend aan die Bybel self blootgestel. Oor watter Kinderbybel die beste is, wil ek my nie graag uitlaat nie. Daar is talle op die mark. Maak gerus ‘n draai by ‘n goeie Christelike boekwinkel soos Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM) of Lux Verbi en vra wat hulle sal aanbeveel. Iets in dieselfde trant: Die Bybelgenootskap van SA (BSA) het ‘n Bybelgeletterdheidsprogram vir die heel jong kind waar kinders leer lees en spel aan die hand van Bybelverhale. Dis regtig ‘n opwindende program, opgestel deur professionele opvoedkundiges. Die materiaal is gratis aflaaibaar van die BSA se webwerf (http://www.bybel.co.za/home/). Besoek dit gerus.

Tweedens, iets wat baie help om kinders se algemene Bybelkennis te bevorder, is Bybelkenniseksamens, veral vir die ouer kinders. Ek het self hieraan as kind deelgeneem en dit het my baie gehelp om die Bybel op ‘n sistematiese manier deur te werk. Dit lê sommer vroeg ‘n goeie algemene Bybelkennis by die kind vas. Ek weet dat baie kerke nog steeds hierdie praktyk het. Hulle hou selfs “kompetisies” in en tussen gemeentes. Vind uit of daar in julle kerkopset so-iets is en, indien wel, moedig jou kinders aan om hieraan deel te neem. Ek weet kinders is oor die algemeen nie “mal” hieroor nie, want dis nog ‘n ding waarvoor hulle moet leer, maar uiteindelik is dit tog die moeite werd as dit oor basiese Bybelkennis gaan. Want so leer jou kind ten minste om die Bybel self behoorlik te lees vir antwoorde. Die BSA se webblad (kyk bo) het ook ‘n Bybelvasvra-afdeling waar jy self jou Bybelkennis kan toets (of doen dit saam as gesin!).

Derdens, daar is baie hulpmiddels (elektronies en in druk) vandag beskikbaar om veral kinders te help om die Bybel sistematies deur te lees. ‘n Mens sou byvoorbeeld by die boekwinkels van CUM kon gaan inloer wat hulle alles beskikbaar het. Hierdie hulpmiddels lê op verskillende vlakke – van gewone leeshulpmiddels om die betrokke Bybelgedeelte met begrip te lees tot meer interpreterende hulpmiddels (kommentare) wat bepaalde Bybelboeke se betekenis vir die leser uitlê. ‘n Goeie voorbeeld van lg is CUM se Bybellennium wat ‘n kommentaar is op die hele Bybel. Dit is weliswaar vir volwassenes bedoel, maar gevorderde hoërskoolkinders sal dit goed kan baasraak. Iets wat kleiner kinders dalk makliker sal vind, is Dave Strehler se “Ontdekkingsreis deur die Bybel vir kinders”. Om die Bybel so sistematies te lees aan die hand van ‘n hulpmiddel is iets wat julle as gesin kan saamdoen. Dit sou vir my die eerste prys wees – om nie net jou kind self die Bybel/hulpmiddel te laat lees nie, maar dit as gesin saam met hulle te doen. Maar onthou, dit moet vir hulle lekker wees om dit saam met julle te doen. Moet dit nie ‘n stresvolle geleentheid maak waar die kinders voel dat hulle “gekatkiseer” gaan word oor die Bybel of moeilike vrae moet beantwoord nie. Hulle kry gou die gevoel dat die een “afsteek” of afgespeel word teen die ander, en dit wil mens nie hê nie. Elkeen moet op sy/haar eie manier saam met pa en ma God se hartstaal aan hulle leer ken. Maar hierdie saamlees-ervaring kan ‘n wonderlike groeigeleentheid wees vir kinders (én ouers). Die BSA se webblad (kyk bo) het ook ‘n afdeling vir hulpmiddels waar mens allerlei leesstof kan aflaai oor interessante onderwerpe, bv Hoe om die Bybel te lees; Troos uit die Woord; Saam met God by die werk; ‘n Bybelleesrooster; Wat dit beteken om kind van God te wees; Plante, diere en beroepe in die Bybel; ens.

Vierdens, daar is natuurlik ook die kwessie van watter vertaling van die Bybel mens aan jou kind wil deurgee. (Ek laat vir doeleindes van hierdie skrywe die Engelse vertalings weg.) Die aangewese een is seker die 1983-Afrikaanse Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Dit bly nog maar die standaard, en word ook deur die meeste Afrikaanse kerke as hulle amptelike vertaling gebruik. Uiteraard is daar nog die sogenaamde “ou” vertaling ook (die 1933/1953 een), hoewel sy woordgebruik en sinskonstruksies al ietwat verouderd is en bietjie vreemd op die oor val. Veral kinders vind dit moeilik om te verstaan. Aan die ander kant van die spektrum is ‘n vertaling wat baie lekker lees vanweë sy vryer vertaalmetode, die Nuwe Lewende Vertaling (NLV) van CUM. ‘n Mens kan hom met vrymoedigheid gebruik. Die Boodskap (ook uit CUM se stal) is ‘n nóg vryer vertaal as die NLV en is ‘n lekker leeservaring. Dan is daar ook Die Bybel vir Almal van die Bybelgenootskap van SA. Dit het eenvoudige sinskonstruksies met omskrywings van moeilike begrippe. Dit behoort ook goed af te gaan by jonger kinders. (Let wel, dis die volledige Bybel en nie ‘n Kinderbybel nie.) En laastens is daar ook die Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap wat tans in wording is. ‘n Proefuitgawe wat die Nuwe Testament en Psalms bevat, het reeds verskyn en is by die Bybelgenootskap beskikbaar (R40). Hierdie vertaling probeer die oorspronklike idioom van die Bybel goed vasvang en verwoord, maar dan in vandag se Afrikaans. Ek voorspel dat hy baie gewild gaan word in die toekoms.

Vyfdens, as dit gaan oor meer algemene hulpmiddels, afgestem op leerstellige of leefstylkwessies, of dagstukkies (met of sonder Bybelse raad oor allerlei sake), is onderstaande webwerwe almal aan te bevole (sommige is reeds hierbo genoem). Hulle het spesiale afdelings vir kinders en tieners/jeug. Daar kan mens na hartelus rondblaai en kyk wat alles beskikbaar is om jou kind van hulp te wees om nie net die Bybel self te lees nie, maar ook met lewensvrae vanuit die Bybel hulp te kry:

Lux Verbi: http://luxverbi.co.za/?language=afrikaans

Bybelmedia: http://www.bybelmedia.org.za

Christelike Uitgewersmaatskappy: http://www.cumuitgewers.co.za

Bybelgenootskap van SA: http://www.bybel.co.za/home/

Ten slotte, daar is nie ‘n vreeslike reg of verkeerd in hoe mens jou kind aan die Bybel (en daarmee aan die Woord van God) bekendstel nie. Moedig jou kind aan om self die Bybel te lees, maar doen dit ook as gesin. En onthou, uiteindelik gaan dit nie oor blote Bybellees of Bybelkennis nie (uiteraard is dit nie onbelangrik nie), maar oor hoe die Bybel se inhoud jou lewe verander. Dít is wat mens uiteindelik in jou kind se lewe wil bereik. En daarvoor is ‘n lewe as Christengelowige saam met jou kind onontbeerlik. Dis die beste geskenk wat ‘n mens hulle kan gee.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl