Kom my ambisie/drome van God?

image_pdfimage_print

 

I am no friend of present-day Christianity, though its Founder was sublime ~Vincent Van Gogh

 

Kom my ambisie/drome van God?

As kinders wil ons verskillende dinge word – treindrywer, brandweerman … Gewoonlik duur dit vir ‘n jaar of twee en dit is verby. Kinderagtige ambisies. Ek dink nie daardie ambisies het van God af gekom nie. Maar Hy het ‘n sekere dryfkrag in my gesit wat uiteindelik sou lei tot sy planne vir my. Die vraag dus: Hoe weet ek dat my droom vir my lewe van God af kom?

 

Hierdie is ‘n belangrike vraag, want as dit nie van God af kom nie, sal dit net tot frustrasie lei – ‘n mors van tyd en energie; beslis nie die moeite werd om na te jaag nie. Dit is nie altyd so maklik om ons selfsugtige ambisie van God-gegewe drome en begeertes te onderskei nie. Hier is ‘n paar filters wat ons kan gebruik:

  • Dit is tot verheerliking van God

‘n God-gegewe droom sal God verheerlik. Dit beteken nie jy moet nou kruise en vissies op jou drome plak nie. ‘n Droom wat met iets oneties te doen het, kom beslis nie van God af nie. God sal ons nooit vra om iets teenstrydig met sy woord te doen nie. ‘n Droom wat hoop, liefde en vrede genereer – daarmee word God verheerlik. Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! (Romeine 11:36).

 

  • Dit sal ander bevoordeel

God se hartklop is mense. Hy is meer bekommerd oor hoe ons ander hanteer as materiële sukses. Enige droom wat behels dat ek ander uitbuit, kom beslis nie van God nie. Nee, God sal jou vra om iets te doen wat ander se behoeftes hanteer. Kyk na hoe ander mense voordeel uit jou drome kan trek. Dan is jy ‘n tree nader om die drome en planne wat God vir jou het te bereik. Leer om weer goed te doen, sorg dat daar reg geskied, gaan die verdrukker teë. Laat reg geskied aan die weeskinders, behartig die regsake van die weduwees (Jesaja 1:17).

 

  • Dit lyk groter as wat jy op jou eie kan behartig

God gee nie klein droompies nie; God doen graag dinge wat betekenisvol is deur mense wat oënskynlik nietig is. God hou daarvan om vir ons groot drome te gee sodat wanneer hulle verwesenlik word ons besef dat dit God en nie ons is wat dit gedoen het nie. Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink (Efesiërs 3:20).

 

Dink ‘n bietjie na oor die droom in jou hart. Vervul hierdie droom hierdie vereistes? Dit maak jou bang, want as jy besef dat God aan jou ‘n droom gegee het, verhoog dit jou vlak van verantwoordelikheid. ‘n Droom van God is nie ‘n kleinigheid nie – dit is lewensbelangrik en kragtig. As God aan jou ‘n droom gegee het, moet jy dit najaag – jy mag dit nie ignoreer nie, want dit maak saak.

 

image_pdfimage_print