Kom weer aan die gang

 

Memory… is the diary that we all carry about with us. ~Oscar Wilde, “The Importance of Being Earnest”

 

Kom weer aan die gang

As jy misluk het, is daar een waarheid wat jy moet onthou: God is ‘n God van tweede kanse. Laat Hom toe om jou mislukking te gebruik om jou vorentoe te laat beweeg.

 

Hoe kan ek van mislukking herstel en na vore beweeg?

  • Aanvaar verantwoordelikheid vir jou mislukking

Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat die bely en laat staan, sal barmhartigheid vind (Spreuke 28:13). Weier ons om ons foute te erken, vermors ons ‘n leergeleentheid. Wees eerlik met jouself en met ander. Ons is almal kundiges om blaam na ander oor te plaas. God sê: “As jy weer voor wil begin, erken dit.” Ons hoef nie voor te gee dat ons volmaak is nie – niemand is volmaak nie.

 

  • Hou op jammer wees vir jouself; begin bely

Bely beteken dat ek my gedagte verander; ek kyk na die saak uit ‘n ander hoek. Jy sit nie op ‘n hopie en kla nie. Droefheid volgens die wil van God bring bekering wat tot redding lei, en daaroor was niemand nog ooit jammer nie. Daarteenoor bring droefheid uit wêreldse oorwegings die dood (2 Korintiërs 7:10). Hier lees ons van twee soorte droefheid: Goddelike droefheid lei tot verandering – dit motiveer jou om iets te doen; wêreldse droefheid is terneerdrukkend en lei tot die dood. Sekerlik een van die emosies wat jou lewe kan vernietig is selfbejammering. Baie van die suksesverhale in die lewe is op mislukking gebou.

 

  • Vergeet van die verlede en fokus op die toekoms

Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus (Filippense 3:13 – 14). Watter gedagte oor die verlede laat jy toe om steeds jou lewe te manipuleer? Sommige mense laat toe dat hulle verlede hulle toekoms beheer. Jou verlede is verby. Jy kan nie jou verlede verander deur jou daaroor te bekommer nie. Fokus op die toekoms. Wat belangrik is, is nie waar jy was nie, maar waarheen jy op pad is. Jy verloor as jy tou opgooi, want dan verwerp jy God se genade. Jy kan jouself voortdurend veroordeel of jy kan bely en met jou lewe voortgaan.

 

  • Vertrou op God om alles op te los

Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is (Romeine 8:28). God is besig om ons lewenspatroon uit te werk; alles pas mooi inmekaar. Vir ons lyk dit dikwels nie so nie. Maak nie saak wat die oorsaak van jou probleem is nie, God kan dit steeds gebruik.

 

Wat is jou probleem? God wil jou help om dit te oorwin. Hou op om jou te bejammer en laat Hom toe om in jou lewe te werk.