Konfrontasie – ‘n gesprek

 

If the cross is not foolishness to the lost world then we have misrepresented the cross. —Steven Lawson

Konfrontasie – ‘n gesprek

Niemand hou van konflik nie – dit is ongemaklik, maar dit is deel van ons verhoudings in ‘n gevalle wêreld. In alle verhoudings breek daar ‘n tyd aan waar jy iemand oor iets moet konfronteer. Dit mag iets wees wat hulle gesê of gedoen het wat jou seergemaak het. Die konteks mag verskil, maar konflik is onvermydelik.

Om iemand te konfronteer is nie maklik nie en moenie sommer ligtelik opgeneem word nie. Dit is ‘n ernstige saak waarvoor jy jou deeglik moet voorberei. As jy een van hierdie ongemaklike gesprekke moet hê, is daar ‘n paar riglyne om te volg

 

  • Bid ernstig

Bid dat God die persoon aan die ander kant sal voorberei. Belangriker nog: bid dat God jou sal voorberei. Gebed berei die hart, verstand en mond voor. Die Heilige Gees gebruik gebed om ons sondes te openbaar, ons tot berou op te roep en om ons motiewe te suiwer. Soms vind ek uit dat die persoon wat gekonfronteer moet word … ek self is. Gebed herinner my ook dat my identiteit nie bepaal word deur wat ander van my dink nie, maar wat God van my dink.  Moet nooit iemand konfronteer sonder om vooraf oor die saak te bid nie.

  • Beplan versigtig

Natuurlik kan jy nie vir elke moontlikheid beplan nie, maar jy moet vooraf versigtig beplan wat jy gaan sê. Soms is dit goed om dit uit te skryf. Hier is ‘n paar belangrike vrae om te vra:

  1. oWat moet gesê word?
  2. oHoekom moet ek dit sê?
  3. oSê ek dit om te help of om seer te maak?
  4. oHet ek bewyse om die aansprake wat ek maak te ondersteun?

Beplan versigtig wat jy gaan sê en hoe jy dit gaan sê. Onthou jou doel is om die verhouding te behou.

  • Praat direk

Konfronteer in liefde, kalmte en direk. Moenie al om die saak praat nie. Moenie passief-aggressief wees nie; moenie skimp nie. Jy het dit neergeskryf juis sodat jy direk kan wees. Vra God vir moed sodat jy kan sê wat jy dink gesê moet word.

Maak nie saak hoe jy dit benader nie, konfrontasie is altyd ongemaklik. Daar is altyd die moontlikheid dat dit nie goed sal verloop nie. God se woord roep ons egter om hierdie proses in liefde deur te gaan en herinner ons wat die doel met hierdie proses is: Broers, as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ‘n gees van sagmoedigheid reghelp. En pas op: jy kan self ook in versoeking kom (Galasiërs 6:1).

Onthou die doel van konfrontasie moet altyd herstel wees. As dit nie jou doel is nie, is jy nie gereed nie.