Koninkryke ander as dié van God – Francois Malan

Johan vra:

In Kolossense 1 vers 15 praat hy van alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings heersers en in die engels bybel praat hulle van KINGDOMS. Waar is die kingdom en hoe moet ek dit verstaan?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Kolossense 1:16 se konings en die Engelse Bybels se Kingdoms is vertalings van die Griekse woord thrónoi wat verskillende betekenisse in die Nuwe Testament het: Trone – die mooi en groot sitplek van die koning soos in Openbaring 5:1 Regeerders – figuurlik gebruik vir die heersende gesag van ’n koning soos in Kolossense 1:16 wat na ’n bonatuurlke gesag van engele of duiwels kan verwys of na menslike regeerders soos aardse konings. Bonatuurlike kragte – figuurlik gebruik vir bonatuurlike magte met ’n spesifieke rol om die lot en aktiwiteite van mense te bepaal, dit kan ook bose magte wees, soos in Kolossense 1:16. Die mag- en gesagsposisie om te regeer, soos in Lukas 1:32 die troon van sy vader Dawid wat aan Jesus gegee is. Die plek waarvan gesag en regering uitgeoefen word, soos in Hebreërs 4:16 Jesus se troon van genade; of Openb 2:13 die gemeente Pergamum woon waar die troon van Satan is. Die Kingdoms of konings kan verwys na die sigbare konings of regeerders van hierdie wêreld of na die onsigbare koninkryke van die engele of die duiwels (1:16). Na die engele word dwarsdeur die Ou en Nuwe Testament verwys. Psalm 103:20 noem hulle die HERE se boodskappers, sterk helde wat sy bevel gehoorsaam. Ook van die duiwels as gevalle engele word deurgaans vertel, vgl. bv. Openbaring 12:9 en die duiwels wat Jesus uit mense uitgedryf het. Die punt van Kolossense 1:16 is dat alle koninklike en heersende magte, owerhede of gesagvoerders deur Jesus geskep is en tot Hom vir sy doel geskep is. Hy beheer en gebruik hulle almal soos Hy wil, en aan Hom is almal uiteindelik verantwoording verskuldig. In die Christelike gemeente in die stad Kolosse in Klein-Asië (die huidige Turkye) was daar volgens Paulus ’n bedreiging vir die suiwer evangelie. Mense het gedink dit is nie genoeg om net in Jesus te glo vir jou verlossing en Hom te aanvaar as die Here oor jou lewe en die voorbeeld vir jou lewe nie. Paulus waarsku hulle om nie meegevoer te word deur filosofieë en leë bedrieëry nie, wat gegrond is op menslike tradisie en teorieë oor die kosmiese elemente as magte wat hulle vergoddelik. Hulle skryf bepaalde gedragsvoorskrifte in diens van hierdie magte voor. Hulle vereis bv. die besnydenis, soos die Jode (2:11), skryf voor wat jy mag eet of drink, dat jy die nuwemaanfees en die Sabbat moet onderhou soos die Jode (2:16); hulle aanbid engele en soek om visioene te kry (2:18). En dan roem hulle en vertrou hulle dat hulle reg lewe, eintlik met hulle goeie werke hulle eie verlossing verdien (vgl. 1:13-14). En dit terwyl Jesus, die Seun van God, self God, Homself verneder het tot die dood aan die kruis, sodat God self al ons sonde op Hom geneem het en ons daarvan vryspreek, as ons onsself oorgee aan Jesus Christus as ons enigste en genoegsame Verlosser en Heer oor ons lewe.

Skrywer:  Prof Francois Malan