Konteks

Be careful when you give advice–somebody might take it.” Anoniem.

Konteks

Keith Whitfield het ‘n interessante artikel oor konteks geskryf.

In 1 Korintiërs 9:20 – 22 spel Paulus sy benadering teenoor mense en kulture uit: Vir die Jode het ek soos ‘n Jood geword om Jode te wen. Hy doen dit sodat hy die evangelie sonder belemmering kan verkondig.

Kontekstualisering beteken dat ons die evangelie aanpas by die uitdrukkings van ‘n ander kultuur – die evangelie moet nie as vreemd vir ‘n kultuur beskou word nie. In die proses mag die inhoud van die evangelie nie verander word nie.

In Handelinge is daar heelwat voorbeelde van Paulus wat die evangelie in ‘n spesifieke konteks plaas. Hy kommunikeer die evangelie in ‘n sinagoge deur te verwys na die geskiedenis van Israel en Johannes die Doper (Handelinge 13:23 – 24). In Ikonium praat hy met nie-Jode en verwys na die algemene openbaring van God (Handelinge 14:16 – 17). In Handelinge 17 praat hy met heidense filosowe en vra hulle om hulle teenkanting teen die evangelie te heroorweeg.

In al hierdie gevalle wyk Paulus nie af van die inhoud van die evangelie nie, maar in elke geval evalueer hy die plaaslike kultuur en beklemtoon verskillende Christelike leerstellings. Dit stem ooreen met die oproep dat Christene die lig vir die wêreld moet wees. Om dit te wees, moet ons boodskap verstaanbaar wees.