Laat sy Liefde jou Lei: As ons maar dít sou doen …

Laat sy Liefde jou Lei: As ons maar dít sou doen … – Milanie Vosloo

Al die gelowiges het gereeld bymekaar gekom, en hulle het alles wat hulle besit het, met mekaar gedeel. Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte. Handelinge 2:44

Die Indiese leier, Mohandas Gandhi het lank gelede reeds vir ons gesê dat daar mense is wat so honger is dat God net aan hulle sal kan verskyn in die vorm van ‘n brood …

 

Wanneer ons die verhaal van die eerste gemeente in Jerusalem lees, is dit duidelik dat hierdie gelowiges net een doel voor oё gehad het: om vir die hele mensdom te vertel en te wýs hoe groot God se liefde is. Daarom het hulle eenvoudig gegéé. Hulle het hul tyd, vermoёns, geld en hul besittings onvoorwaardelik met ander gedeel. Die resultaat daarvan was: Hulle het God deurentyd geprys, en die goedgesindheid van die hele volk geniet. En die Here het elke dag mense wat gered word, by hulle gevoeg. (Handelinge 2:4)

 

Ons leef soms soos outomate in ons eie klein leefwêreld – onaangeraak deur die nood en wêreld van die wat daar buite maar net probeer oorleef. Miskien moet ons meer gereeld bid dat die Gees aan ons ‘n dóén-geloofspassie sal gee sodat ons – die kerk van die 21ste eeu – Christus se liefde prakties sal leef.

Ek en jy ís die “gemeentes” van ons dag. Dis óns wat aan mense moet verskyn. Soms in die vorm van ‘n brood, ander kere deur ons diensbaarheid, maar áltyd deur ons liefde.

Here, ek wil graag ‘n bruikbare instrument van daadwerklike liefde wees

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo