Laat sy Liefde jou Lei: Die liefde dink anders.

Laat sy Liefde jou Lei: Die liefde dink anders. – Milanie Vosloo

Die liefde dink ánders

Vra wat die Here van julle wil hê terwyl dit nog moontlik is. Bid tot die Here noudat Hy naby is. Jesaja 55:6

Ons almal wil graag betekenisvol leef. Dit laat ons tog immers goed voel om te weet ons leef ons talente en gawes uit en maak deur ons menswees iewers ’n verskil. Om ’n sinvol te leef heg mos iets aan ons selfwaarde en dra by tot ons selfvervulling.

 

Ons Vader het ook bedoel dat ons só sal leef dat ons sinvolheid sal beleef. Dis deel van die optimale vreugdes wat Hy aan sy menslike skepsels geskenk het.

 

Leef jy betekenisvol? Kan jy met oortuiging sê dat jy iewers en aan iemand ’n verskil maak. Voel jy goed oor dit wat jy doen en is. Of wonder jy soms daaroor.

Die feit is: jou Vader – die Een wat elke detail van jou lewe gemaak het – ken jou soos die palm van sy hand. Hy het die bestanddele van jou lewe noukeurig uitgesoek en Hy weet presies wat die resep van jou lewe behoort te wees. Daarom is Hy by uitstek die Een wat ook aan jou kan wys hoe en waar jy betekenisvol kan leef. Hy ken meer as jou verwagtinge, Hy weet die detail van jou drome. Selfs daardie drome wat vaag is of dié wat jy al lankal weggepak het omdat ander dinge jou lewe opeis of omdat jy iewers langs die pad vertroue in jouself verloor het.

Kniel vandag voor jou Meester en vra Hom: Here, wat behoort ek te doen om (weer) betekenisvol te wees? Bly op jou knieë tot Hy jou antwoord!

Here, waar pas ek in in die sin van die lewe?

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer:  Milanie Vosloo