Laat sy Liefde jou Lei: Gee die lig aan

Laat sy Liefde jou Lei: Gee die lig aan – Milanie Vosloo

Gee die lig aan

Dus staan die saak só: Wie suinig saai, sal karig oes; wie ruimskoots saai, sal volop oes. 2 Korintiёrs 9:6

Daar’s tye wanneer dit regtig goed met ons gaan en ons selfs wonder waarom ander so sukkel om met lewensvreugde te leef. Ja, wanneer die heerlike somerson van vreugde-voorpoed ons harte verwarm, vergeet ons dikwels hoe koud en ongenaakbaar die winters van die lewe kan wees. Dis dan maklik om doodluiters die luike van ons harte vir ander toe te maak sodat hul donker nie ons wêreld betrek nie.

Somer-oorvloedtye is goddelike tye wat aan ons gegee word om te geniet. Maar somertye is ook wérkgeleenthede. Wanneer die warm sonskynstrale ons harte verwarm en ons in sy oorvloed-seёn blom, wil ons Vader ook hê dat ons ander se winterharte sal verwarm deur ‘n deel van ons somervreugde uit te deel. Dis dan wanneer Hy sê: Daar moet ‘n balans wees tussen julle huidige oorvloed en julle gebrek. Dan kan julle oorvloed weer vir julle gebrek aangewend word. Op só ‘n manier kom daar ewewig. Soos daar geskryf staan: “Die een met baie, het nie te veel gehad nie; en die een met ‘n bietjie, nie te min nie.”(2 Kor. 8:14-15)

Winston Churchill het gesê: Ons maak ‘n bestaan uit wat ons ontvang, maar ons skep ‘n lewe deur te gee. Besluit om jou hartsvenster van liefde elke dag wawyd oop te maak sodat jy die goddelike genade wat jy ontvang het, ook op ander kan laat skyn.

Vader, wys my waar ek vandag u lig kan wees.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

Skrywer: Milanie Vosloo