Laat sy Liefde jou Lei: God het net jou moed nodig

image_pdfimage_print

Laat sy Liefde jou Lei: God het net jou moed nodig – Milanie Vosloo

God het net jou moed nodig

Naäman en sy hele gevolg gaan toe terug na die man van God toe. Hy het voor hom gestaan en gesê: “Nou weet ek dat daar geen God in die hele wêreld is nie, behalwe in Israel…” 2 Konings 5:15a

Miskien het jy al baie gewonder of en hoe jou Vader jou wil gebruik. Dalk dink jy: Ek’s tog so gewoon. Ek’t nie veel uitstaande talente nie en is ook nie regtig ‘n sogenaamde “groot geestelike” nie.

As jy twyfel aan die feit of jy in God se diens staan, kan jy gerus weer die verhaal van die klein dogtertjie in 2 Konings 5 gaan lees. Op ‘n jong ouderdom was hierdie diensmeisie van Naäman reeds oortuig daarvan dat God enige iets kan doen. Toe Naäman melaatsheid kry, was dit dus nie vir haar moeilik om haar meester te probeer oortuig om na die profeet Elisa toe te gaan sodat dié hom gesond kan maak nie. Die res van die verhaal ken ons. Naäman word wel deur God se wonderwerk blakend gesond en boonop ‘n vurige aanbidder van die Almagtige.

As ‘n bloedjong kind se opregte geloof haar noop om ‘n koning se lewe te red, dink net wat jý kan doen met die geleenthede wat elke dag in jou lewe ontvou!  

Jy’t nie geleerdheid, aansien of invloed nodig om ‘n kragtige dissipel van Jesus te wees nie. Jy het net ‘n bietjie moed en die krag van die Gees nodig!

Skepper-God, ek wil elke dag van my lewe beskikbaar wees sodat U my kan gebruik. Ook vandág.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo

image_pdfimage_print

You may also like...