Laat sy Liefde jou Lei: God se terugroep-tegnieke

Laat sy Liefde jou Lei: God se terugroep-tegnieke – Milanie Vosloo

God se terugroep-tegnieke

Julle het gehoop om ‘n goeie oes huis toe te bring, maar dit was maar skraal. Die oes wat julle nog huis toe gebring het, het Ek weggewaai. Waarom? Omdat julle almal besig is om julle eie netjies huise te bou en dit terwyl my huis in puin lê, sê die magtige Here. Haggai 1:9

Soms is dit droogte in ‘n mens se lewe. Sulke tye voel dit asof niks wil uitwerk nie, teenspoed jou ry en jou planne maar net nie suksesvol wil wees nie. Waar is God se seёn heen?, wonder jy dan.

Miskien is dit goed om in sulke tye juis langer periodes in die teenwoordigheid van jou Vader deur te bring. Dalk is jou ongunstige omstandighede God se manier waarop Hy met groot liefde vir jou wil sê: “Luister jy nog na My?” of “Kom terug na My, my kind. Ek verlang na jou!”.

Wees vandag eerlik met jouself wanneer jy voor God staan. Maak seker dat jou prioriteite reg is; dat jou Vader en sy belange eerste in jou lewe is. Indien nie, het dit tyd geword dat jy jou lewenswyse in heroorweging neem en in stilte by die Gees van God pleit om jou weer op die regte koers te plaas.

God se liefde vra dat Hy ons prioriteit sal wees en dat ons daarom binne sy sfeer van gehoorsaamheid en genade sal bly leef. Wanneer ons dit doen … leef ons in vréde.

My oes is min omdat my tyd saam met U skraal is. Bring my weer tuis by U, Vader.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo