Laat sy Liefde jou Lei: God vergeet nie

image_pdfimage_print

Laat sy Liefde jou Lei: God vergeet nie – Milanie Vosloo

God vergeet nie!

Selfs al sou my pa en ma my verlaat, die Here sal my styf vashou. Psalm 27:10

Dis so maklik om minderbevoorregtes, mens in nood en dié in pyn eenvoudig uit ons gedagtes te skuif. Dit maak die skuldgevoelens minder en maak die stemmetjie van “ons-moet-iets-vir-hulle-doen” stil. Dis juis as gevolg van hierdie menslike ignoreer-styl wat ons soms kan wonder of God dan regtig mense in hul nood onthou …

 

 

Die Woord leer ons, God dóén! Hy is by uitstek ‘n Vader vir swaarkrymense, vir hulle wat deur die samelewing verwerp word, wat gebroke, moedeloos en geskok is. Hier op aarde het Hy ‘n prostituut se saak verdedig, melaats-stukkende mense heel gemaak, sy skoene onder ‘n tollenaar se tafel uitgeskop en aan ‘n moordenaar gesê dat Hy saam met Hom in die paradys sal wees. Ons God van liefde huil saam met seerkrymense, Hy hou hulle vas, troos hulle en laat hulle nóóit alleen nie.

‘n Stukkie Skrif wat my al vele kere gedra het wanneer ek met dinge worstel en gewonder het of God my regtig lief het, is die bekende Romeine 8:28: En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe. In uitsiglose tye wanneer ons ontredderd en alleen voel, kan ons maar wéét: Ons getroue Vader laat nooit een van sy kinders in die steek nie.

 

Ons aanbid ‘n God wat áltyd onthou. Veral wanneer ons vergeet!

 

Dankie dierbare Vader dat ek aan U, die onveranderlike, mag vashou. 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

milanie_boeke_advertensie

 


 

 

 

 

 

 Skrywer: Milanie Vosloo

image_pdfimage_print

You may also like...