Laat sy Liefde jou Lei: Jasmyn-liefde

Laat sy Liefde jou Lei: Jasmyn-liefde – Milanie Vosloo

Eerlike raad van ‘n vriend is so aangenaam soos parfuum en so heerlik soos wierook. ‘n Vrolike mens is soos goeie medisyne. ‘n Neerslagtige mens tap jou krag. Spreuke 27:9, 17:22

Sekere blomme ruik onmiskenbaar blóm: soos jasmyn, katjiepiering, die roos en die veelkleurige yesterday-today-and-tomorrow. Dis asof hulle in jou verbygaan vir jou uitroep: “Kom nader. Kom rúík en geniet my skoonheid in voordat jy verder gaan.”

So is party mense onmiskenbaar líéfde. Hul hele wese sê: “Jy’s welkom in my hart. Vertoef gerus ‘n wyle by my sodat ek ‘n stukkie van my liefdesgeur op jou kan afvryf. Kom sit in die koelte van my mensweesskadu sodat ek jou kan verkwik en jou met nuwe inspirasie kan vul.” En omdat jy veilig voel by hierdie jasmyn-mense, wíl jy in hul teenwoordigheid wees, wíl jy by hulle verwyl en het jy altyd weer ‘n behoefte om na hulle terug te keer.

Ons liewe Vader wil hê dat ons gegeurde mense sal wees. Iets wat ons net kan regkry as Hy deel van ons wese is, as ons Hom toelaat om ons daagliks te vernuwe en sy Gees die kern van ons menswees vul. Want nét God kan van gewone, feilbare en hartelose mense, liefdesmense maak. Net Hy kan ons help om die wierook van liefde grensloos te versprei.

Kom ons bid vandag vir die suiwering en vernuwing van ons harte sodat ons lewens sal sê: Welkom in my lewe. Welkom by die liefde.

Gees van God, ek kan net u liefde aan hierdie wêreld wys as U dit deur my doen.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo