Laat sy Liefde jou Lei: ‘n God vir droogmaakmense

image_pdfimage_print

Laat sy Liefde jou Lei: ‘n God vir droogmaakmense – Milanie Vosloo

Jesus sê toe vir haar: “Ook Ek veroordeel jou nie. Gaan maar, en moet van nou af nie meer sonde doen nie.” Johannes 8:11b

Jy kan met opregtheid sê dat jy God se riglyne vir die lewe in al die fasette van jou menswees probeer toepas. Daarom is gesonde menseverhoudinge vir jou belangrik, doen jy elke dag jou dagtaak na die beste van jou vermoё en hanteer jy die eise van die lewe meestal met passie, geduld en deursettingsvermoё.

En tóg weet jy ook dat – ondanks jou beste pogings – daar ‘n moontlikheid is dat dinge iewers langs jou pad, verkeerd kan loop, foute op onverklaarbare maniere kan insluip, ongevraagde misverstande kan ontstaan of jy sommer net die spoor byster kan raak. Dis dan wanneer jy wonder: Waarom kan ek, as gelowige, nie perfek wees nie? Wanneer gaan ons volmaak wees?

Onthou: die reis van ‘n gelowige is ‘n reis van ‘n land ver weg van hierdie wêreld af. Dis ‘n reis waarop ons gaan struikel en val en waarop ons soms gaan verdwaal. Maar onthou ook: Dat Jesus juis gekom het om droogmaakmense van hulself te red en dat die Heilige Gees gekom het om ons in ons menslike swakhede by te staan.

Vir dié wat besef dat hulle uit hulself nie tot die goeie in staat is nie, sê God in Jesaja 57:18: “Ek het gesien wat jy (hy) doen, maar ek sal jou (hom) gesond maak! Ek sal jou (hom) begelei en jou (hom) herstel en vertroos.

O Here, kom my swakheid te hulp asseblief!

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo

image_pdfimage_print

You may also like...