Laat sy Liefde jou Lei: Niks kan jou van Hom skei nie!

Laat sy Liefde jou Lei: Niks kan jou van Hom skei nie! – Milanie Vosloo

Níks kan jou van Hom skei nie!

Tog is ons te spyte van al hierdie dinge besig om ‘n superoorwinning te behaal – oorwinnaars deur Christus wat sy liefde so duidelik aan ons bewys het. Romeine 8:37

“Daar is soveel dinge wat ek nie reg doen nie … my geloof- en gebedslewe is so flou … Ek is bang God het sy rug op my gedraai …”.

Klink dit soos die noodroep van jou eie hart? Ja, almal van ons twyfel soms aan God se getrouheid – veral wanneer ons weet dat ons ongehoorsaam was en nie sterk in ons geloof staan nie. As jy soms deur sulke tye gaan, kan jy gerus weer die Woord oopmaak by Romeine 8. Vers 38 stel gee die teendeel-antwoord op twyfelvrae so duidelik: Een ding weet ek vas en seker: Niks kan ons ooit van Christus se liefde skei nie. Nie dood of lewe of engele of duiwelse magte nie; nie ons vrees vir vandag of ons kommer vir môre nie … Ja, hoegenaamd niks daarbo of onder in die dieptes of elders in die skepping sal ons ooit kan skei van die liefde wat God in Christus Jesus ons Here vir ons het nie.

Hoor jy dat God sê dat absoluut niks wat met jou gebeur of wat jy beleef enigsins ‘n verskil aan sy onvoorwaardelike liefde vir jou sal maak nie?

 

Sê daarom in tye van vertwyfeling: “Vader, ek twyfel soms aan u liefde vir my. Bevestig dit asseblief weer in my hart.”

 

Dankie dat U my vashou selfs in tye wanneer ek u hand los, Heilige God!

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

 


Milanie Vosloo