Laat sy liefde jou lei: Om die “onaangenames“ te seën

Laat sy liefde jou lei: Om die “onaangenames” te seën – Milanie Vosloo

Spreek die Here se seën uit oor elkeen wat julle vloek. Moenie iets terugsê nie. Bid vir almal wat julle beledig. Lukas 6:28

Ek is seker jy het met die lees van die vorige stukkie ‘n paar mense voor jou geestesoog opgeroep wat jy régtig nie kan liefhê nie. Party van hulle is dalk spoke uit jou verlede, ander onlangse ontmoetings of dalk is ván hulle mense wat intens déél van jou lewe is. Miskien het jy baie hard probeer om vir hulle te bid en ondervind dat die negatiewe beeld wat jy van hulle het, telkemale jou gebede versmoor. Hopenlik het jy tóg ’n sweempie verandering in jou hart gevoel toe jy hulle aan die Vader opgedra het.

Ongeag wat jou hart se reaksie op jou gebede was, moet jy aanhou probeer om voort te gaan om vir daardie mense te bid van wie jy nie hou nie. Bid ook dat die Gees van God jou in jou swakheid sal bystaan en jou in staat sal stel om dinge te doen wat menslik gesproke onmoontlik is. Ja, dat Hy jou hart radikaal sal verander!

Bly bid en gló dat Hy jou menslike hart sal omskep in ’n hart soos dié van Jesus: ’n Hart wat tot aan die kruisdood in staat was om vir sy vyande te bid. Gló dat Hy reeds begin het om dit te doen en gaan leef daarvolgens,

Gees van God, ek kan nie self liefhê nie, maar dankie dat ek deur U wel my vyande met liefde kan seën.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning. Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

milanie_boeke_advertensie

 

 Skrywer: Milanie Vosloo