Laat sy liefde jou lei: Praat tog met my!

image_pdfimage_print

Laat sy liefde jou lei: Praat tog met my! – Milanie Vosloo

Julle het immers die Heilige Gees ontvang van Hom wat in ‘n hegte verhouding met julle leef; daarom het julle nie behoefte daaraan dat iemand julle onderrig nie, want sy Gees lig julle oor alles in … 1 Johannes 2:27a

Daar’s tye wat ons nie met God kan praat nie. En dan is daar dié tye wat ons ernstig op ons knieё met Hom worstel en dit vir ons voel of Hy eenvoudig doof vir ons geword het. Dis dan wanneer ons maar net kan bid:

 

“Here, ek hoor U nie! Ek soek bakens, padwysers, vuurtorings, antwoorde, rigting, leiding in die Bybel, mense se raad, toevallige gebeure … en ek weet nie of dit U is wat praat nie. Leer my U hóór. Help my om u hand ráák te vat. Loop u pad met my, Here. Laat ek U sonder voorbehoud volg – vertrou – al verstaan ek niks. Wys my u leidrade. Wys my u rigting. Leer my U sién. Leer my die alfabet van u taal.”*

 

Weet vandag: God hóór elke versugting en soeke van jou hart. Hy het ook al die antwoorde wat jy nodig het. Jy hoef geensins spesiale kennis oor God te hê om Hom te hoor nie, want jy het die Gees in jou. En die Gees van Christus salf jou en bind jou oomblik vir oomblik aan die waarheid vas.

 

Onthou vandag: Julle almal (ja, ook jý,!) weet egter waaroor dit gaan, want julle dra die salwing van die Heilige Gees. 1 Joh 2:20

 

Dankie dat u waarheid my begelei, Vader-God

 

* Uit: In Gesprek met God, Milanie Vosloo Uitgegee deur Lux Verbi BM

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

milanie_boeke_advertensie

 

  Skrywer: Milanie Vosloo

 

image_pdfimage_print

You may also like...