Laat sy Liefde jou Lei: “Skep moed!”, sê Hy

image_pdfimage_print

Laat sy Liefde jou Lei: “Skep moed!”, sê Hy – Milanie Vosloo

“ … Ek sal in hierdie plek vrede bewerkstellig. Ek, die magtige Here, bevestig dit!” Haggai 2:9b

Miskien wonder jy met tye of God werklik uit die vervallendheid van jou lewe ‘n tempel van heiligheid kan skep. Ja, soms is ons so skaam oor ons eie lewens dat ons twyfel of God ons enigsins nog as sy beelddraer-kinders wil beskou. Wat nog daarvan om in en deur ons te leef?

Sulke tye moet ons ons maar net weer ernstig op die duisende beloftes van God se Woord beroep. Soos in die volk Israel se tyd toe die tempel ‘n murasie van afgebreekte mure was en God gesê het: “Maar skep moed … Skep moed en doen die werk, want Ek is by julle, sê die magtige Here. My Gees sal by julle bly soos Ek julle belowe het toe julle uit Egipte getrek het. Julle moet glad nie bang wees nie.” (Haggai 2:4a, 5) Verder moedig God sy mense aan deur te sê dat die toekomstige roem van sy tempel selfs groter in die verlede gaan wees.

Hoor jy dit? Hoor jy hoe God in sy liefde vir jou sê dat ook jý moed kan skep? Dat jy moet onthou dat Hy uit enige situasie wonderwerke kan laat gebeur?

God se beloftes van trou aan jou sal nooit verdwyn nie. Daarom kan jy – ongeag alles – altyd moed hê in dié wete dat Hy enige iets met en deur jou kan doen!

Dankie getroue Vader, dat U uit my níks-wees-mens iets hemels-groot kan skep!


Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo

image_pdfimage_print

You may also like...