Laat sy Liefde jou Lei: Spoelklip-mense

Laat sy Liefde jou Lei: Spoelklip-mense – Milanie Vosloo

Spoelklip-mense

Wie hulle eie lewe liefhet, verloor dit; maar wie hulle lewe in hierdie wêreld haat, sal dit met die oog op die ewige lewe behou. Johannes 12:25

Die lewe, het Alba Bouwer gesê, is alte veel soos die bergwater wat hier langs die huis in die voor afkom: dit werkskaf aljimmers vorentoe, vorentoe, daar is nooit stilstaan nie.

En as ‘n mens jou geloef in die lieven Heer nie het nie, sal daai water jou lateraan so deurmekaar spoel lat jy onderstebo die Ewigheid indiewel. 

Ons is almal spoelklippie-mense wat deur die strome van die lewe gemaal word. Soms vloei die koel fonteinwater-van-vreugde lawend oor ons harte. Ander kere is dit asof nuwe lewenservaring-water ons siele suiwer. Maar dan is daar ook dié kere wanneer die maalstrome van die wêreld ons amper wreed wil laat verdrink. Dis die tye wanneer ons geneig is om baie gou ons harte tot ons Vader te wend. En natuurlik is ons Redder altyd dan slaggereed om ons te help! Maar … wanneer ons Hom passievol lief het, roep ons nie net na Hom wanneer ons deur die lewe oorweldig word nie. Dan kies ons om daagliks … uurliks in totale afhanklikheid aan Hom te leef.

Vir ons almal kom daar ‘n dag wanneer die lewensstroom ons tot stilstand gaan bring. Dan is ons aardse lewe totaal irrelevant. Al wat dan gaan saak maak, is hoe naby ons aan Hom geleef het.  Waar is jy vandag, spoelklippie-mens?

 

Here, ek wil nie één dag sonder U die waters van die lewe aandurf nie. 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za


 

 

 

 

Milanie Vosloo