Laat sy liefde jou lei: U-is-mý-God-liefde

image_pdfimage_print

Laat sy liefde jou lei: U-is-mý-God-liefde – Milanie Vosloo

Hierdie liefde van julle moet as’t ware hard en duidelik ’praat’. Mens moet daarna kyk en sê: ’Kyk net, daar’s ’n volgeling van Jesus.’” Johannes 13:35

 

Hoe lyk jou liefde vir God? Is dit die eenmaal-per-week kerk-toe-gaan-liefde wat jy Sondae bewys? Is dit dalk die liefde van eenmaal-’n-dag-Bybellees-roetine? Of is jou liefde vir Hom so groot dat jy Hom eenvoudig met alles in jou wil loof en prys?

 

Wanneer ons besef hoe onbeskryflik groot ons Vader se goedheidliefde vir ons is, kan ons nie anders as om oorloop-liefde vir Hom te hê nie. Dan is ons harte so vol van Hom dat ons maar net oor en oor ons liefde vir Hom wil verklaar. En dis sulke tye wanneer ons, soos Dawid, spontaan wil uitroep: “Here, U is my God. Ek wil U met alles in my prys. U Naam wil ek altyd grootmaak.” (Psalm 86:12)

 

Wanneer ek en jy God met ons hele hart, siel en verstand liefhet, kan ons dit nie wegsteek nie. Dan kry ons dit reg om Hom met ons hele lewenswandel te eer. Só te eer dat ander na ons kyk en dink: “Daar’s iets anders in hierdie mens. Iets wat vir my sê sy het Jesus régtig lief.” 

 

Hoe lyk jou liefde vir God? Is dit ‘n ek-wil-heeltyd-by-Hom-wees-liefde … ‘n ek-wil-doen-wat Hy-vra-liefde? Indien wél, is jy daagliks besig om sy grootheid hard en duidelik sal verkondig.

 

Here, wees so deel van my dat my lewe die soet klanke van u liefde aan hierdie wêreld sal uitbasuin. 

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning. Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

milanie_boeke_advertensie

 

 Skrywer: Milanie Vosloo

 

image_pdfimage_print

You may also like...