Laat sy Liefde jou Lei: Vervulling in Hom

image_pdfimage_print

Laat sy Liefde jou Lei: Vervulling in Hom – Milanie Vosloo

Vervulling in Hóm

As jy jou aardse roeping gevind het en dit met oorgawe en passie kan leef, is jy een van die gelukkigste mense op aarde. Dan beleef jy dikwels selfverwesenliking en vind jy vervulling in dit wat jy doen. En veral in dit wat jy is.

Wanneer jy egter jou dagtaak saam met God doen, sy wil in alles probeer doen en regtig daarna streef om Hom ook deur jou dagtaak te verheerlik, vind jy meer as vervulling. Dan beleef jy dat jou aardse bestaan direk met die ewigheid gekoppel is. Ja, dan begin jy so ietsie verstaan van die ongelooflike vervulling wat ons eendag in die vaderhuis gaan beleef.

Geniet jy jou dagtaak?

Geniet jy jou werk? Kan jy met eerlikheid sê dat jou dagtaak vir jou ’n vreugde en plesier is en dat jy soggens met verwagting uitsien na die uitdagings wat jou werk dié dag gaan inhou? As dit so is, is jy een van die min mense wat werklik vervulling in hul roeping vind. Dis so jammer dat slegs ongeveer 20% van alles mense (volgens ’n studie deur Gallup) werklik hul werk geniet en voel dat hulle dit waarmee hulle goed is, elke dag doen.

As so min van ons bevredigende werke doen, is dit nie vreemd dat daar verder beweer word dat die meeste mense slegs leef vir Vrydagmiddae nie. En dat daar Sondae-aande ’n vlaag van depressie oor die wêreld daal omdat môre “Maandag!” is.

Ons liewe Vader het nie bedoel dat ons ons werk slegs as ’n middel tot ’n doel sou sien nie. Hy wil hê dat ons ook in ons daaglikse arbeid vreugde sal vind.

Ons kan slegs ons werk geniet as ons werklik ons unieke en godgegewe talente uitleef in ’n wêreld waarin ons regtig belangstel en in ’n omgewing wat ons stimuleer. Doen jy dit?

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo

image_pdfimage_print

You may also like...